Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB: Ek sal op 50 sê wat my laat uittree het

AB de Villiers sal eers op 50-jarige ouderdom die “dieper redes” verklap agter sy skok-uittrede verlede jaar uit internasionale krieket.

Hy het in ’n onderhoud met ’n Indiese YouTube-program, Breakfast with Champions, gesê hy wou nog graag in vanjaar se Wêreldbekertoernooi speel.

“Ek was gretig om in die Wêreldbeker te speel, maar ek het vertrek. Ek het uitgetree,” het De Villiers gesê.

AB de Villiers sê hy sou tog graag nog in vanjaar se Wêreldbeker wou speel. Foto: Getty Images

“Dit was ’n baie sensitiewe situasie. Die afgelope drie jaar van my loopbaan is ek gebrandmerk as ’n ou wat kies en keur wanneer ek speel en wanneer nie.

“Ek het baie kritiek van die huis af gekry, wat ’n rol in my uittrede gespeel het. Dit was vir my moeilik om toe te sê ek sal steeds in die Wêreldbeker speel. Dit is weer die kies-en-keur-ding en dit is nogal arrogant om so iets te doen. Soos hulle sê, jy kan nie jou brood aan albei kante botter nie.”

De Villiers het gevoel asof hy ’n besluit moes neem waar dit gaan lyk asof hy net aan homself dink.

Verskeie redes het egter tot sy internasionale uittrede gelei, waarvan sy familie beslis ’n vername deel is.

Hy het ook vir 15 jaar internasionale krieket gespeel en was moeg vir die hele internasionale toneel.

Soos Suid-Afrikaners sou verkies om De Villiers vir die volgende twee maande te sien: feesvierend in die groen en goud. Foto: Getty Images

“Dís besig en stresvol. En die sielkundige effek, die twyfel wat jy as persoon en speler het, beïnvloed jou. My rol as kaptein van die Proteas het sy tol geëis en daar was ook dieperliggende probleme wat ek dalk wanneer ek eendag 50 is eers sal bespreek.”

Daar is ’n deel van De Villiers wat internasionale krieket altyd sal mis. Hy wens hy kon langer vasbyt.

“Maar dit was tyd. Ek het ’n goeie beurt gehad. Ek het soveel pret gehad, regtig, en meer drome het waar geword as wat ek ooit kon dink.

“Daar was ongelukkig ook baie hartseer langs die pad. Dis die groot rit wat ons almal deurmaak.”

De Villiers het in die onderhoud onthul dat hy die een was wat Faf du Plessis oortuig het om nie ’n tweede Kolpakkontrak met ’n Engelse graafskapspan te sluit nie nadat sy kontrak met Lancashire in 2010 verstryk het.

Hy het aan Du Plessis gesê hy is baie naby aan ’n plek in die Protea-span.

“Daar was ’n oomblik wat hy oorweeg het om vir een van die Engelse graafskappe te teken,” het De Villiers gesê.

“Hy het my gebel en gevra wat dink ek daarvan? Ek het gesê dis nie lank nie dan tree ’n paar ouens uit, en jy is naby (aan die Protea-span).

“Die afrigters en die span praat oor jou, so byt net ’n bietjie langer vas. Uiteindelik het die deurbraak gekom. Ek neem nie die krediet daarvoor nie, maar ons het die gesprek gehad. Ek is baie bly ek was eerlik met hom.” –Sportredaksie

Bykomende bron: Crincinfo

Meer oor:  Ab De Villiers  |  Uittrede  |  Verklaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.