
AB de Villiers
Dis lekker om in Engeland krieket te speel, want die ondersteuners daar weet veel meer van die spel as in ander wêrelddele, waaronder Suid-Afrika.
So het AB de Villiers, die voormalige Protea-sterkolwer en -kaptein, gesê nadat hy die afgelope week met ’n blits-vyftigtal in Engeland gewys het waarom hy steeds as een van die mees gerekende kolwers in wêreldkrieket beskou word.
De Villiers het in die T20 Blast-toernooi vir Middlesex sy verskyning gemaak en 88* lopies van 43 balle aangeteken. Dit het vyf viere en ses sesse ingesluit.
Die wedstryd is op Lord’s gespeel, skaars ’n week nadat die Wêreldbekereindstryd daar in ’n naelbyt-stryd deur die gasheer, Engeland, teen Nieu-Seeland gewen is.
Ek wil dit nie vergelyk met die Indiese Premierliga nie, maar die skare in Engeland beskik in die algemeen oor baie meer kennis as elders ter wêreld, en dit sluit Suid-Afrika in.
AB de Villiers
De Villiers se span het voor ’n skare van sowat 28 000 mense gespeel. “Dis een van die beste skares nog woor wie ek al gespeel het,” het De Villiers volgens ESPNcricinfo gesê.
Hy het die Engelse krieket-ondersteuners geloof.
“Ek moet versigtig wees met my woorde en wat ek nou gaan sê: Ek wil dit nie vergelyk met die Indiese Premierliga nie, maar die skare in Engeland beskik in die algemeen oor baie meer kennis as elders ter wêreld, en dit sluit Suid-Afrika in,” het De Villiers gesê.
“Daar het jy aanhangers, hier het jy mense wat die spel baie goed ken. So ek voel jy vermaak mense wat die spel soort van bestudeer. Dit maak dit ’n bietjie anders, jy kry baie geraas om die wêreld in ander toernooie.

Cameron Delport
Hoewel De Villiers nie by die Wêreldbekertoernooi was nie, het sy raad aan Engeland se kaptein, Eoin Morgan, oor kapteinskap en druk, die Engelse dalk gehelp om die toernooi te wen.
Morgan was verlede jaar De Villiers se spanmaat by die Tshwane Spartans en Morgan het by De Villiers gaan kers opsteek.
“Ons het so ’n bietjie gepraat oor die kapteinskap en die druk wat daarmee gepaardgaan. Dis regverdig om te sê hy het van die raad kop toe gevat.”
Nog ’n Suid-Afrikaner, Cameron Delport, het in dié T20-toernooi ’n honderdtal van slegs 38 balle geslaan toe hy Essex gehelp het om Surrey planke toe te stuur. Hy het uiteindelik 129 van slegs 49 aflewerings gekry en sy span het met 52 lopies gewen. Sy beurt het 14 sesse ingesluit. Imran Tahir, Proteas-draaier, het in sy twee boulbeurte 39 lopies teen Delport-hulle afgestaan.