Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB-hulle se trommel by Affies ontdek

Toe konstruksiewerkers Dinsdagoggend by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) ’n vreemde staaltrommel byna twee meter onder die grond ontdek, sou niemand verwag het dat dit in 2002 deur AB de Villiers en sewe van sy skoolvriende daar begrawe is nie.

AB de Villiers, oud-Protea, en Deon Botes, De Villiers se krieketbreier op Affies, hou sy eerstespan-rugbytrui vas wat vir 16 jaar in ’n trommel onder die grond begrawe was. Foto: William Brown

Dis egter presies wat met dié sogenaamde tydkapsule gebeur het.

De Villiers, toe in matriek by Affies, Derick Kuün, Cliff Milton, Sarel Potgieter, Basil de Doncker, Willem Taute, Willem Fraser, Herman van der Laan en hul koshuishoof, Pierre le Roux, het elkeen ’n kledingstuk van die skool in die trommel gesit, wat hulle op die aand van 13 November in 2002 skelm begrawe het naby die skool se booghek by die hoofingang.

Le Roux het aan die groepie toestemming gegee en self ietsie in die trommel gestoor.

“Ek en AB was twee van die prefekte en ons het dit gedoen terwyl die personeel en koshuisleerlinge in die studiesaal was, want ons wou nie hê almal moes weet nie,” het Kuün Woensdag by navraag gesê.

In die trommel was onder meer ’n eerstespan-rugbytrui van De Villiers, ’n o.19A-span-aflosuitrusting wat aan Kuün en Potgieter behoort het, ’n Affie-pet van Milton, asook ’n skooldas, ’n koshuishemp, ’n hokkiehemp, skooltrui, ’n rugbydas en selfs ’n skinkbord wat uit die koshuis gegaps is.

Vir byna 16 jaar het net dié groepie geweet van die trommel se bestaan, met De Villiers wat kortliks in sy outobiografie, AB – Die Outobiografie, daarna verwys het.

“Ons het ’n groot trommel gekoop en dit met verskeie artikels gevul,” skryf De Villiers. “Dis natuurlik so dat die trommel se bestaan ’n goedbewaarde geheim bly. So moet asseblief vir niemand vertel nie.”

Die idee was om dit op hul tienjaar-reünie uit te grawe, maar die meeste van die groep kon dit nie bywoon nie en die besluit is geneem om dit eerder tot 2022 uit te stel. Dié plan is egter nou in die wiele gery.

“Ek is hartseer daaroor dat dit vier jaar te vroeg ontdek is, maar ek is bly dis die skool wat dit gevind het en dat dit nie net weggeraak het nie,” vertel Kuün.

Die naamlys van almal wat iets in die trommel begrawe het. Die voormalige Blou Bul en Super14-wenner Derick Kuün het ook onder die seuns getel. Foto: William Brown

Verder was daar ook ’n naamlys van elkeen wat iets in die trommel gesit het met die woorde “Affies is great!” en “Laat daar lig wees” (die skool se leuse) onderaan geskryf.

“Ons het elkeen ook ’n brief geskryf waarin ons bespiegel het oor hoe die lewe oor tien jaar sou uitdraai,” vertel Kuün.

Die briewe het met ’n sigaar gepaard gegaan wat hulle sou aansteek op die reünie, maar dié het nie die elemente oorleef nie.

De Villiers, Kuün, Milton, Potgieter, De Doncker en Fraser was almal in hul matriekjaar deel van een van die skool se sterkste rugbyspanne nóg. De Doncker was die eerste gekleurde speler wat vir die eerste span uitgedraf het.

De Villiers het die artikels huis toe geneem, met die groep wat besluit het om dit aan Affies se argief te skenk.

“Ek dink dis tog iets spesiaal en nou deel van Affies se geskiedenis. Ek hoop net nie elke groep vriende besluit om dit ook te doen nie, anders gaan die skool omtrent begrawe word,” het Kuün geskerts.

Volgens Dirk Taljard, skakelbeampte van Affies, was dié ontdekking ’n aangename verrassing.

“Dis ’n onverwagse, interessante vonds,” sê hy.

“Ons is besig met opknappingswerk voor die skoolgebou en die pype word ook vervang en dis met dié dat die trommel toevallig opgegrawe is.”

De Villiers, ’n kookwater-losskakel op sy dag, het homself as ’n legende in wêreldkrieket onderskei en die Proteas in 114 toetse, 228 eendagwedstryde en 78 T20-wedstryde verteenwoordig.

Kuün was in 2007 deel van die Blou Bulle se seëvierende Super14-rugbyspan en ook deel van die suksesvolle Curriebeker-span in 2009.

Milton het self vir die Bulle uitgedraf en was deel van die Junior Springbok-span.

Potgieter het 246 punte in sy eerstespan-trui aangeteken, wat vandag nog die vyfde meeste in die skool se geskiedenis is. Hy het later vir Westelike Provinsie verteenwoordig.

De Doncker het die Luiperds in die Curriebeker-, asook die Vodacombeker-reeks, verteenwoordig.

Meer oor:  Trommel  |  Ab De Villiers  |  Derick Kuün  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.