Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB-hulle stel 3-span-krieket bekend

Regstreekse krieket is volgende Saterdag terug op die kassie met AB de Villiers, Kagiso Rabada en Quinton de Kock wat mekaar sal pak in ’n wedstryd soos wat niemand nog ooit gesien het nie.

AB de Villiers gaan een van die drie spanne in die Solidarity Cup-driespan-wedstryd aanvoer. Foto: Getty Images

Altesaam 24 van Suid-Afrika se voorste krieketspelers sal ’n nuwe formaat van krieket, “driespan-krieket”, bekendstel in die Solidarity Cup-wedstryd, wat op 27 Junie op SuperSport-park in Centurion gespeel sal word.

Die voormalige Springbok-rugbykaptein Francois Pienaar is die uitvoerende hoof van 3TeamCricket. Die kommentator Mark Nicholas is ’n aandeelhouer en medestigter. Nicholas, Graeme Smith en Mark Boucher het die formaat gekonsepsualiseer. Dit is die geesteskind van die gewese grootbaas van FirstRand Paul Harris.

“Ek dink die nuwe formaat kan internasionaal groei en jong mense se verbeelding aangryp. Ek dink die formaat het ongelooflik baie potensiaal, op voetsoolvlak en vir beroepspelers,” het Pienaar Woensdag op ’n digitale bekendstelling van dié driespan-wedstryd gesê.

Vir die Solidarity Cup-wedstryd, sal Rabada die kaptein van die Kingfishers wees, De Villiers sal die Eagles aanvoer en De Kock die Kites.

Mark Nicholas is ’n aandeelhouer in driespan-krieket. Foto: Getty Images

Die wedstryd sal uit 36 boulbeurte bestaan en in twee helftes van 18 boulbeurte verdeel word. Elke span sal vir ses boulbeurte teen een van sy teenstanders in die eerste helfte kolf, waarna sy ander teenstander vir hom ses beurte sal boul. In die tweede helfte sal elke span dan weer ses beurte van elk van sy twee teenstanders trotseer.

Elke span het agt spelers en daar is ’n “last man standing”-reël. As sewe kolwers uit is, kolf die laaste kolwer alleen voort. Hy kan dan net in twees, viere en sesse lopies aanteken.

Effektief beteken dit elke span kolf 12 boulbeurte.

“Dis iets heeltemal anders en as spelers het ons nie ’n idee wat om te verwag nie. Ek is net opgewonde om weer op die veld te kom en hierdie nuwe formaat te probeer,” sê De Villiers.

“Wat vir my uitstaan in dié formaat, is die ‘last man standing’-aspek. Ek hoop ek kry die kans om die laaste man staande vir my span te wees.”

Rabada sien die wedstryd as ’n bietjie pret ná weke sonder krieket.

“Dit gaan mededingend wees, maar dit gaan baie pret en opwindend wees. Dit is ’n nuwe konsep en nuwe konsepte het mense altyd op die punt van hul stoel,” sê Rabada.

“Dit noop ons boulers om ’n bietjie beter te dink, want daar gaan net ses veldwerkers wees.”

Kagiso Rabada gaan ook volgende week in die Solidarity Cup-wedstryd in aksie wees. Foto: Gallo Images

De Kock meen strategies gaan dit ’n uitdaging wees.

Smith, ook Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, sê hy hoop die formaat sorg vir ’n opskudding wêreldwyd.

“My doelwit is natuurlik dat die formaat wêreldwyd groei en dalk selfs internasionaal aftrek kry. Dalk kan ons eendag ’n driespan-wedstryd tussen Suid-Afrika, Indië en Amerika sien, wat steeds mededingend sal wees.”

Hy wil graag kyk hoe die formaat ontwikkel kan word en dalk selfs in ’n skoleprogram ingelyf word.

Daar is drie pryse in ’n wedstryd: Goud, silwer en brons.

’n 90-boulbeurt-formaat is ook beskikbaar, wat in twee helftes van 45 boulbeurte opgedeel sal word, met elke span wat 30 boulbeurte lank sal kolf. In die 90-boulbeurt-formaat, sal elke span 11 spelers hê.

“Ek dink nie die spel kan te veel formate hê nie,” sê Nicholas.

Die veiligheidsprotokolle vir die Solidarity Cup-wedstryd is reeds deur die regering goedgekeur. Geen toeskouers sal toegelaat word nie.

Die geld wat uit die wedstryd gemaak word, sal aan die Solidariteitsfonds geskenk word, wat gebruik word om mense wat finansieel onder die Covid-19-pandemie ly, by te staan.

Die spanne vir die Solidarity Cup-driespan-wedstryd is:

Kingfishers: Kagiso Rabada (k), Reeza Hendricks, Janneman Malan, Faf du Plessis, Heinrich Klaasen, Chris Morris, Glenton Stuurman, Tabraiz Shamsi.

Kites: Quinton de Kock (k), Temba Bavuma, JJ Smuts, David Miller, Dwaine Pretorius, Lutho Sipamla, Beuran Hendricks, Anrich Nortjé.

Eagles: AB de Villiers (k), Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Andile Phehlukwayo, Sisanda Magala, Junior Dala, Lungi Ngidi.

  • Lees meer oor driespan-krieket: www.3team.cricket
  • Die wedstryd sal van 11:00 af regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
Meer oor:  Solidarity Cup  |  Graeme Smith  |  Krieket  |  Ab De Villiers  |  3-Span-Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.