Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB is onvervangbaar, sê Bacher

“AB de Villiers is onvervangbaar. Suid-Afrikaanse krieket moet nie eens probeer om ’n tweede AB te wil kweek nie. Daar is net een van sy soort.”

AB de Villiers vroeër vanjaar op die Wanderers in Johannesburg teen Indië in aksie. Foto: Deaan Viviers

Dít was Woensdag die woorde van dr. Ali Bacher, eertydse kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan en later ook grootbaas van SA krieket, nadat die nuus die wêreld ingestuur is dat De Villiers (34) ’n einde gebring het aan sy internasionale loopbaan.

“Ek het nog altyd gesê die twee beste kolwers wat Suid-Afrika nog gehad het, is Barry Richards en Graeme Pollock en AB is in hul geselskap. Hy is die innoverendste kolwer wat wêreldkrieket nóg gesien het,” sê die 75-jarige Bacher.

“Daar sal nuwe sterre op die Suid-Afrikaanse kriekethorison verskyn, dit is nou maar hoe die lewe werk, maar ’n AB sal daar nooit weer wees nie,” sê Bacher.

Kort nadat De Villiers sy skokaankondiging gedoen het, het hy met Bacher gesels.

“Ek het nog altyd ’n baie warm en innemende verhouding met AB gehad. Hy het vir my gesê hy is fisiek en geestelik gedaan. Hy het 14 jaar op die hoogste vlak gehad en ek kan sy besluit verstaan. Hoe teleurgesteld mense ook al gaan wees dat AB se speeldae verby is, hoop ek tog ook dat die krieketpubliek sy besluit sal verstaan en respekteer.

“Die druk op hom was geweldig. Hy was ’n superster waar ook al hy gespeel het en dit dreineer jou om die heeltyd so in die openbare oog te wees en iets van jouself vir die mense te moet gee. AB was juis een van daardie spesiale soort mense wat altyd tyd ingeruim het vir die ondersteuners en bereid was om geselsies aan te knoop en handtekeninge uit te deel.

Daar sal nuwe sterre op die Suid-Afrikaanse kriekethorison verskyn, dit is nou maar hoe die lewe werk, maar ’n AB sal daar nooit weer wees nie.
Ali Bacher

“Die verwagtinge wat daar op sy skouers was, het uiteindelik die oorhand gekry. Dit is ook uitmergelend om die wêreld vol te vlieg en weg van jou huis en jou gesin te wees.

“Hy sê hy voel nou verlig dat die aankondiging gedoen is en dat hy net kan aangaan met sy lewe en ’n nuwe hoofstuk begin.”

De Villiers het die nuus gebreek op ’n video wat hy op sy eie app en op Twitter geplaas het.

“Ná 114 toetse, 228 internasionale eendagwedstryde en 78 internasionale T20-wedstryde is dit nou tyd vir ander spelers om oor te neem. Ek het my beurt gehad en om eerlik te wees, is ek nou moeg,” het hy in die video-boodskap gesê.

“Dit was ’n moeilike besluit en ek het lank en hard hieroor gedink. Ek wou graag uittree terwyl ek nog goeie krieket speel en ná die uitstekende reeksseges oor Indië en Australië, voel ek nou is die regte tyd.

Die krieketwêreld het in reaksie hierop soos een man De Villiers se lof toegeswaai en sy vermoë om toeskouers te vermaak as een van sy grootste deugde uitgesonder.

Volgens Herschelle Gibbs, ’n voormalige Protea-spanmaat, gaan hy ’n groot leemte in die Suid-Afrikaanse span laat.

“Hy is beslis een van die topvyf-kolwers wat vir Suid-Afrika gespeel het. Hy het ons vermaak verskaf en dis is een van die groot dinge van hom wat ons sal mis. Hy was boonop ’n wonderlike veldwerker en daarby ’n baie aangename ou,” het hy gesê.

AB de Villiers was die meester van innoverende kolfwerk, soos dié omgekeerde veeghou getuig.Foto: Gallo Images

Lance Klusener, wat die Proteas in 49 toetse verteenwoordig het, sê De Villiers sal as een van die beste kolwers nóg onthou word.

“Hy is beslis een van die beste kolwers wat ek al die voorreg gehad het om te aanskou – beslis in Suid-Afrika en heel waarskynlik ter wêreld,” sê Klusener.

Van De Villiers se voormalige breiers het ook hulde aan hom gebring.

Ray Jennings meen De Villiers het die wyse waarop kolfwerk benader word, en die styl van kolfwerk verander.

“Hy is die kreatiefste kolwer wat nog gesien is – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook ter wêreld.

“Die feit dat hy nou nie meer in die Wêreldbeker-toernooi sal speel nie is groot terugslag vir ons,” het Jennings, wat die Proteas in 2004 en 2005 afgerig het, gesê.

Hy het wedstryde op sy eie gewen, maar hy het altyd vir die span gespeel.
Russell Domingo

Russell Domingo, Suid-Afrika se voormalige afrigter, sê De Villiers was ’n onselfsugtige speler, wat altyd die span eerste gestel het.

“As ’n speler is hy een van die bestes wat nog ooit die spel gespeel het. Hy het wedstryde op sy eie gewen, maar hy het altyd vir die span gespeel.”

De Villiers het ook die hoogste lof by voormalige internasionale teenstanders gekry.

Die gewese Engelse kaptein Michael Vaughan het gesê sy uittrede is ’n groot verlies vir internasionale krieket.

“Hy het al drie weergawes van die spel gespeel op die manier wat ek dit sou wou doen. Hy tel onder die drie beste spelers wat ek ooit sien speel het,” het Vaughan op Twitter gesê.

Die Sri Lankaanse legende Mahela Jaywardene het Vaughan se siening beaam.

“Een van die bestes. Wens jou alles van die beste toe, AB. Wonderlike speler, maar bo alles ’n wonderlike mens,” het Jaywardene gesê.

Chris Nenzani, die president van KSA, het in ’n verklaring gesê De Villiers sal as een van die allerbeste krieketspelers onthou word wat dié land nóg opgelewer het.

“Hy is een van die bestes van alle tye. Hy het ondersteuners oor die wêreld heen met sy briljantheid en vermoë om innoverend te kolf, trakteer,” sê Nenzani.



Meer oor:  Ab De Villiers  |  Uittrede  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.