Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Suid-Afrika se AB, KG en Faf skitter in IPL

Kagiso Rabada het Dinsdagaand geskiedenis in die Indiese Premierliga (IPL) gemaak.

Ná die Protea-sterbouler se boulontleding van 2/21 (vier boulbeurte) vir die Delhi Capitals in hul nederlaag met 15 lopies teen die Sunrisers Hyderabad, is hy die eerste speler nóg wat twee paaltjies of meer in tien agtereenvolgende IPL-wedstryde kon plattrek.

Die Protea-ster Kagiso Rabada het Dinsdagaand IPL-geskiedenis gemaak. Foto: Gallo Images

Hy is nou ook gesamentlik die voorste paaltjievraat in vanjaar se toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate, met sewe slagoffers in drie wedstryde.

Die Kings XI Punjab se Mohammad Shami het ook tot dusver sewe paaltjies.

Rabada boul boonop uiters ekonomies en staan slegs ’n gemiddeld van 6.25 lopies per boulbeurt af – ’n verstommende prestasie in T20-krieket.

Hy was in 2019 die naasvoorste paaltjievraat, met 25 slagoffers in slegs 12 wedstryde. Een van sy Protea-spanmaats, die draaier Imran Tahir, was boaan dié lys, met 26 paaltjies in 17 wedstryde.

Tahir, wat vir die Chennai Super Kings speel, was nog nie vanjaar vir dié span in aksie nie.

Rabada het in die Capitals se eerste wedstryd briljant geboul in die superboulbeurt teen die Kings XI en twee paaltjies in dié valbylbeurt geneem. Hy het opnuut gewys hy het ys in sy are.

Hy het nie ’n goeie 2019 Wêreldbeker-toernooi beleef nie, maar as hy dié spelpeil voortsit, kan hy driedubbeld daarvoor vergoed in die 2021 T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) in Indië.

Nóg ’n speler wat Mark Boucher, die Protea-afrigter, onmiddellik moet vasteken vir die T20-WB in Oktober en November 2021, is AB de Villiers.

Hy is die vyfde voorste lopiemaker, met 134 lopies in drie wedstryde vir die Royal Challengers Bangalore. Sy treftempo van 186.11 is uitsonderlik.

Hy het sy span Maandagaand gehelp om in ’n superboulbeurt teen Quinton de Kock se Mumbai Indians te seëvier, nadat hy vroeër in die wedstryd ook 55* van 24 balle gemoker het.

Hy het as paaltjiewagter diens gedoen en ’n goeie vangskoot benut.

AB de Villiers met sy Speler van die Wedstryd-prys. Foto: Twitter | Royal Challengers Bangalore

De Villiers het die toernooi binnegegaan sonder enige noemenswaardige krieket agter die blad. Hy het laas in Januarie in die Big Bash-liga mededingende krieket gespeel, voordat hy in Julie kookwater was in die driespan-wedstryd in Centurion.

Sy vermoë om van ratte te verwissel, om die wedstrydsituasie blitsig op te som, en enige bouler na enige uithoek van die veld te moker, maak van hom waarskynlik steeds die mees afgeronde kolwer in wêreldkrieket.

Al het hy in 2018 uit internasionale krieket getree, sou hy vanjaar beskikbaar gewees het vir die T20-WB in Australië, wat weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

Hy het vroeër gesê as sy lyf nog goed voel, sal hy dit steeds oorweeg om volgende jaar ook beskikbaar te wees.

Hy en Faf du Plessis kan sorg vir die perfekte nr. 3/4-kombinasie in die Protea-middelorde, om ná die aanvangspaar van De Kock en Temba Bavuma in te stap.

Du Plessis kook self vir die Super Kings. Hy is die derde voorste lopiemaker, met 173 lopies in drie wedstryde. Sy treftempo van 149.13 is briljant.

De Kock het nog nie vanjaar sy voete gevind nie, en kon nog net tellings van 33, 1 en 14 aanteken.

Lungi Ngidi (Super Kings) blaas warm en koud, asook Anrich Nortjé (Capitals). De Villiers se RCB-spanmaat Dale Steyn (1/33 en 0/57) sukkel ook. Maar T20-krieket is ’n kolwersparadys, wat Rabada se vertonings nóg meer indrukwekkend maak.

Nog ’n Protea, Chris Morris, is nog nie deur RCB ingespan nie.

David Miller se loopbaan by Rajasthan Royals het op die slegste moontlike manier begin – hy is in sy eerste wedstryd vir sy nuwe span uitgehardloop sonder om ’n bal te trotseer.

Meer oor:  Indiese Premierliga  |  Krieket  |  Kagiso Rabada  |  Ab De Villiers  |  Ipl  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.