Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB, Rabada se IPL-ambisies geknou

Terwyl Quinton de Kock maar sy kolf kan begin olie vir die uitspeelfase van die Indiese Premierliga (IPL), is sy mede-Proteas Kagiso Rabada, Anrich Nortje en AB de Villiers se kans om daar uit te kom besig om te kwyn.

AB de Villiers en sy RCB-spanmaats was Saterdag aan die verloorkant teen die Sunrisers Hyderabad.Foto: IPL

De Kock en sy Mumbai Indians-spanmaats kon Saterdag in Dubai lustig feesvier nadat hulle met ’n sege oor die Delhi Capitals (vir wie Rabada en Nortje speel) verseker het dat hulle in die top-2 op die IPL-punteleer sal eindig.

Toe De Villiers se Royal Challengers Bangalore ’n paar uur later in Sjarjah die knie buig voor die Sunrisers Hyderabad is hul posisie boaan die leer boonop vasgemessel.

Die Indians gee die pas aan met 18 ligapunte, terwyl RCB en Delhi onderskeidelik tweede en derde is met 14. Agter hulle is vier spanne op 12 punte – wat beteken dat ses spanne in die komende drie dae se laaste ronde van ligawedstryde sal meeding vir die oorblywende drie uitspeelplekke.

RCB het ’n kans gehad om binne trefafstand van die Indians te bly in hul stryd teen die Sunrisers, maar die 120/7 wat hulle in hul kolfbeurt aangeteken het, was nooit genoeg om hul teenstanders te laat sweet nie.

De Villiers (24) was een van net drie Bangalore-kolwers wat die 20 lopie-merk kon verbysteek, saam met die jong Aussie Josh Philippe (32) en Washington Sundar (21).

Die Sunrisers het die teiken van 121 binne net 14.1 boulbeurte gehaal, met 35 balle oor en vyf paaltjies in die hand.

Ná die vroeë verlies van David Warner (10) het sy aanvangsmaat Wriddhiman Singh (39) en Manish Pandey (26) die skip terug op koers gekry met ’n vennootskap van 50. Hul vertrek het geen gevaarligte laat afgaan nie, met Jason Holder (’n onoorwonne 26 van net 10 balle) gereed om voort te bou op hul goeie werk.

Die sege het Hyderabad gedra na 12 punte, binne trefafstand van die top-4. ’n Groot hekkie wag wel Dinsdag in hul laaste wedstryd, in die vorm van die Indians.

RCB en Delhi pak mekaar Maandag, en die verloorder sal straks die einde van die pad bereik. Albei spanne sal egter ’n goeie idee hê van wat hulle te doen staan, aangesien die Kings XI Punjab, Kolkata Knight Riders en Rajasthan Royals (almal spanne met 12 ligapunte) reeds Sondag in hul laaste groepwedstryde speel.

Kagiso Rabada in aksie vir Delhi Capitals. Foto: I
Kagiso Rabada in aksie vir Delhi Capitals. Foto: IPL

Terwyl al die spelers wat buite die top-4 eindig teleurgesteld sal wees, sal dit veral ’n swaar slag vir Rabada wees om nie daar uit te kom nie.

Die 25-jarige ster-bouler het 23 paaltjies in die Capitals se eerste elf wedstryde van die reeks geneem en begin droom daarvan om Dwayne Bravo se rekord van 33 (opgestel in 2013) te oortref. Maar nadat hy geen paaltjies in sy laaste twee wedstryde kon neem nie, is daardie syfer nou baie ver weg. ’n Nederlaag teen RCB sal straks ’n einde aan sy ambisies bring, terwyl ’n sege hom nog een of twee wedstryde sal bied om sy paaltjietotaal te probeer verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.