Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘AB, moenie uit toetskrieket tree,’ pleit Ali

AB de Villiers is die innoverendste kolwer wat Suid-Afrika tot nog toe gehad het.

So sê dr. Ali Bacher wat in 1970 die kaptein van die Suid-Afrikaanse span was wat met 4-0 skoonskip gemaak het in die tuisreeks teen Australië.

Dit was ook die laaste keer dat Suid-Afrika hier by die huis ’n toetsreeks teen Australië kon wen.

AB de Villiers se breë kolf was die verskil tussen Suid-Afrika en Australië in die tweede toets op St. Georgepark, meen Barry Richards. Foto: Reuters

“AB is fenomenaal en die Suid-Afrikaanse toetsspan kan nie sonder hom wees nie. In my speeldae van 1960 tot ’74 was die twee beste kolwers wat ek gesien het Barry Richards en Graeme Pollock.

“AB het egter nou in hierdie era kolfwerk na ’n ander vlak geneem en daar is nie nog ’n kolwer soos hy ter wêreld wanneer dit by innovering kom nie. Hy en Virat Kohli van Indië is ongetwyfeld die twee opwindendste kolwers ter wêreld,” sê Bacher.

Die 34-jarige De Villiers het reeds verlede jaar daarop gesinspeel dat hy ná die toetsreekse teen Indië en Australië sy toetsloopbaan in heroorweging sal neem, maar Bacher reken Suid-Afrika het hom nog te nodig om nou sy toetskolf te wil wegpak.

“Ek sal verstom wees as hy nou sy toetsloopbaan beëindig. Hy het nog soveel om te bied in die toetsarena,” sê Bacher.

Richards het nadat Suid-Afrika Maandag die tweede toets in Port Elizabeth gewen het om die reekstelling met 1-1 gelyk te maak, ook De Villiers se lof besing.

“Dit neem spesiale spelers en spesiale vertonings om sulke mededingende toetse tussen Suid-Afrika en Australië te wen en dit is waar iemand soos AB ter sprake kom.

“As hy in die eerste beurt vir iets in die 20’s uitgehaal is, sou Suid-Afrika nooit hierdie toets kon wen nie, maar sy 100-tal was die groot verskil tussen die spanne,” sê hy.

Oor sy gevoel rakende De Villiers se voortgesette toetsloopbaan sê hy die besluit berus geheel en al by AB self.

“Elkeen moet self besluit of hy nog daardie honger het om voort te gaan en soggens op te staan en steeds te doen wat hy moet doen en te oefen en slaggereed te wees vir die eise wat toetskrieket stel.

“Dat Suid-Afrika hom egter nog baie nodig het, bestaan daar geen twyfel oor nie,” sê Richards.

Bacher het ook grappenderwys gesê dat as De Villiers wel die dag besluit genoeg is genoeg, moet hy Suid-Afrika se ambassadeur in Indië word, “aangesien hy so ’n heldeverering daar geniet en omtrent deur elke krieketliefhebber daar verafgod word”.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Proteas  |  Ali Bacher  |  Ab De ­Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.