Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB moet ‘iets breek’ voordat hy stryd mis

AB de Villiers geniet sy krieket op die oomblik so baie, hy sal “iets moet breek voordat ek ’n game mis”.

De Villiers lewer spogvertonings vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL). Dít ondanks die feit dat hy in Januarie vir die Brisbane Heat in die Big Bash-liga laas mededingende krieket gespeel het.

AB de Villiers sê hy voel nog so fiks soos altyd. Foto: IPL

“Ek het hard gewerk in die gimnasium, so ek het seker gemaak ek is lekker fiks. Die driespan-wedstryd (in Julie in Centurion) het ook gehelp,” In daardie wedstryd het De Villiers 61 lopies van 24 balle gemoker. Dit het kompleet gelyk of hy nié, soos die res van die land, sedert Maart ingeperk was nie.

“Ek het ook ’n paar netsessies gehad. In my aftyd werk ek saam met ’n paar jong manne en ons slaan balle saam, of werk hard in die nette,” sê De Villiers.

“Tydens die inperking, toe ons kon begin rondbeweeg, het ek ’n paar netsessies gehad by St. Alban’s College en by ’n ou se huis wat ’n privaat oefennet het.

“Ek was dus maar aan die gang, al is dit nie dieselfde as om mededingende krieket te speel nie. Op my ouderdom van 36 is dit maar meer in die kop as enigiets anders. Ek het gevoel ek is fisiek op ’n goeie plek en ek het genoeg krieket gekry.”

Op my ouderdom van 36 is dit maar meer in die kop as enigiets anders.
AB de Villiers

Toe hy in die Verenigde Arabiese Emirate aangeland het vir vanjaar se IPL, het hy verder voorberei.

“Ons het ook in Dubai ’n hele maand gehad voordat die toernooi begin het. Sewe dae van kwarantyn, en toe drie weke van oefening en opwarmingswedstryde. Daar was baie krieket.”

Hy het tot dusver nog in elke wedstryd vir RCB gespeel, en doen boonop as paaltjiewagter diens.

“Die lyf is maar 36 jaar oud,” sê hy laggende. “Daar is maar gereeld skete en dit is nog altyd so. Jy speel nooit dié spel en voel die heeltyd 100% perfek nie. Maar ek het goed voorberei, ek is so fiks as wat ek al ooit in my loopbaan was.

“Ek het baie hard gewerk die maand wat ons in Dubai was, in verskriklike hitte. Noudat die wedstryde begin het, voel ek nie te veel druk op my liggaam nie.

“Natuurlik het ek skete, soos ’n stywe rug en ’n paar ander dinge. Maar dit gaan my nie sommer van die veld af hou nie, ek sal iets moet breek voordat ek ’n game mis.

“Die lyf voel goed, my kop is vars en ek geniet my krieket.”

Meer oor:  Krieket  |  Ab De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.