Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB: ‘My deur is altyd oop vir die Proteas’

AB de Villiers is nog nie noodwendig klaar met internasionale krieket nie.

AB de Villiers maak amok vir die Royal Challengers Bangalore in hul wedstryd teen KKR. Foto: IPL

De Villiers, wat skitter in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL), sê hy sien volgende jaar se IPL, wat vir April en Mei beplan word, as ’n toetslopie om vas te stel of hy homself vir die Proteas se veldtog in die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) beskikbaar moet stel.

As hy daar goed vertoon, en Mark Boucher, die nasionale afrigter, en Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, stel nog in hom belang, is dit “beslis ’n moontlikheid” dat hy vir die Proteas in die T20-WB kan speel. Die T20-WB word in Oktober en November 2021 in Indië beslis.

“Ek het nog geen planne vir ná die huidige IPL nie,” het De Villiers vandeesweek uit die Verenigde Arabiese Emirate aan Netwerk24 gesê.

AB de Villiers in 2018 in ’n eendagwedstryd teen Indië in aksie. Foto: Gallo Images

Hy gaan nie vanjaar in die Australiese Big Bash-liga vir die Brisbane Heat speel nie, het hy bevestig.

“My vrou is swanger en ons verwag (’n dogtertjie) in November. Ek wil net in November, Desember en Januarie by die huis wees. Ons sal daarna kyk wat gebeur.

“Daar is weer ’n IPL in April en Mei 2021. Hopelik kom ek deur die huidige IPL en is my lyf nog fiks en sterk genoeg vir volgende jaar se IPL.

“Daardie toernooi sal na my mening ’n toets wees. Ek verwag om rondom daardie tyd, of net voor daardie toernooi, van Bouchie-hulle te hoor of hulle nog belang stel om my deel van hul planne te maak.

“Maar vir my onthalwe, moet ek in daardie tyd, in April, Mei 2021, die bal nog goed slaan, ek moet een van die wêreld se bestes wees. Ek moet fiks wees, in my kop en my lyf. Daar moet baie dinge in plek val van my kant af.

“En dan van hulle kant af, van Bouchie en Graeme en KSA, moet hulle my nog betrokke wil hê. As al daardie dinge reg is, is daar beslis ’n moontlikheid. Maar baie tyd moet nog verloop voor dit kan gebeur.

“Ek fokus vir eers daarop om deur hierdie IPL te kom en dan is dit gesinstyd. Dan moet ek weer fiks word vir die IPL, of vir watter toernooi ek ook al in gaan speel. En vandaar af sal ons weer gesels. Maar my deur is altyd oop, en Bouchie weet dit.”

De Villiers gryp weer die verbeelding aan vir die Royal Challengers Bangalore in vanjaar se IPL. In sewe wedstryde het hy reeds 228 lopies teen ’n gemiddeld van 57 en ’n verstommende treftempo van 185.36 aangeteken. Hy het reeds drie vyftigtalle gemoker.

Dié vertonings kom boonop nadat hy in Januarie vir die Brisbane Heat laas mededingende krieket gespeel het.

Ná sy warrelwindbeurt van 73* (33 balle, 5x4, 6x6) Maandagaand teen die Kolkata Knight Riders het selfs die Indiese hoofafrigter, Ravi Shastri, by hom gesmeek om na internasionale krieket terug te keer.

“Wat ons gisteraand gesien het, was verstommend. AB de Villiers, die spel het jou weer in die internasionale arena nodig. Die spel sal beter daaraan toe wees,” het Shastri getwiet.

De Villiers, wat in 2018 uit internasionale krieket getree het, sou moontlik dié jaar reeds weer vir die Proteas in die T20-WB in Australië teruggekeer het. Dié toernooi, wat vir Oktober en November moes plaasvind, is weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Meer oor:  T20  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Ab De ­Villiers  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.