AB de Villiers het in sy onoorwonne kolfbeurt van 73 van net 33 balle vir die Royal Challengers Bangalore teen die Kolkata Knight Riders Maandag ’n paar motors buite die Sharjah-stadion in die straat raak geslaan.

AB de Villiers. Foto: Gallo Images
RCB het met De Villiers se goeie versnelling aan die einde 194/2 aangeteken waarna KKR tot 112/9 beperk is in die spanne se wedstryd in die Indiese Premierliga.
De Villiers het 23 balle geneem vir sy vyftigtal. Dit was sy hoogste telling vanjaar en ook sy beste teen KKR.
Hy het vyf viere en ses sesse gemoker. Van sy sesse het bewegende motors buite die stadion getref.
Dit was nie so maklik om te kolf nie, maar De Villiers is nie daardeur gepootjie nie.
RCB het 111/2 gehad met nog vyf beurte oor wat toe 83 lopies opgelewer het.
De Villiers en sy kaptein Virat Kohli (33*) het met hulle onoorwonne vennootskap van 100 lopies ook die 3 000-kerf aan lopies saam voor die paaltjies vir RCB verbygesteek.
KKR het op 51/1 eensklaps tot op 64/5 gesteier.
Die draaier Washington Sundar het met 2/20 uitgeblink, terwyl Chris Morris (2/17) en Yuzvendra Chahal (1/12) ekonomies was. – Sportredaksie
• TELKAART