Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB se deelname aan T20-WB byna seker

Die Proteas het AB de Villiers gevra om homself beskikbaar te stel vir ’n sekere tydperk en as hy dít doen, is daar geen twyfel dat hy by die groep vir die T20-Wêreldbeker (T20-WB) ingesluit gaan word nie.

De Villiers het reeds verlede maand sy begeerte uitgespreek om Suid-Afrika in dié kriekettoernooi Doer Onder te verteenwoordig en dit sal dus ’n verrassing wees as hy nie tot die versoek instem nie.

AB de Villiers het die naweek in die Dimension Data Pro-Am-gholftoernooi by Fancourt gespeel. Foto: Gallo Images

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het Sondag ná die laaste T20-wedstryd teen Engeland gesê by hom is daar geen kwessie nie – slegs ’n dwaas sal ’n fikse, bereidwillige AB uit sy WB-groep laat.

“AB word in die media en in die publiek bespreek, maar vir my is daar geen bespreking nie. Ek het gesprekke met hom gehad. Ons sal waarskynlik binnekort weet wat met AB gaan gebeur,” het Boucher Sondag gesê.

Die groep vir die T20-reeks teen Australië is Maandag bekend gemaak, maar daar was geen teken van De Villiers nie. Daar word verneem dat hy eers ná die Indiese Premierliga (IPL) sy terugkeer tot internasionale krieket sal maak.

Die IPL duur van 29 Maart tot 24 Mei. Ná die IPL het die Proteas wegreekse teen Sri Lanka (wat nog bevestig moet word) en die Windies, voordat Pakistan dalk in Oktober hierheen toer net voor die span na die T20-WB vertrek.

De Villiers sal waarskynlik in Augustus sy terugkeer in die vyf T20-wedstryde teen die Windies maak. Daar is selfs gissinge dat hy reeds in Junie in die beplande toer in Sri Lanka kan terugkeer.

AB de Villiers kyk die bal agterna ná ’n ander dag se naderhou. Foto: Gallo Images

Sy agent, Edward Griffiths, sê niks is nog gefinaliseer nie.

“Soos wat ek van die begin af gesê het, ek wil die beste spelers beskikbaar hê,” sê Boucher.

“As AB bereidwillig is, sy spelpeil goed is en hy homself beskikbaar stel vir die tydperk wat ons hom beskikbaar wil hê, dan moet hy (T20-WB toe) gaan as hy die beste speler in sy posisie is. Dit gaan nie oor ego’s nie. Dit gaan daaroor om jou beste span na die T20-WB te stuur om jouself ’n kans te gee om die toernooi te wen.”

De Villiers het Maandag sy 36ste verjaardag gevier. Dít op dieselfde dag as wat sy jare lange vriend, Faf du Plessis, aangekondig het hy lê die tuig as Protea-kaptein in alle formate neer. Quinton de Kock sal nou die voltydse T20-kaptein wees.

De Villiers en Du Plessis was albei voorheen De Kock se Protea-kaptein. Nou kan hulle die nr. 3 en nr. 4 in De Kock se span in die T20-WB wees.

De Villiers het die naweek in die Dimension Data Pro-Am-gholftoernooi by Fancourt in George gespeel.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Ab De Villiers  |  Proteas  |  T20-Wêreldbeker  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.