Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB se kolf doen weer praatwerk teen Mumbai

AB de Villiers se kolf was Vrydagaand veelseggend in die Royal Challengers Bangalore (RCB) se oorwinning met twee paaltjies oor die Mumbai Indians in die openingswedstryd van die Indiese Premierliga (IPL).

AB de Villiers speel die bal vir Royal Challengers Bangalore in hul IPL-wedstryd teen Mumbai Indians in Chennai. Foto: BCCI/IPL

Nadat die IPL in 2020 ’n suksesvolle draai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gemaak het, was dit Vrydag weer tuis op eie bodem in Chennai, Indië, waar die 14de weergawe van dié reeks ’n opwindende eerste stryd opgelewer het.

Die Suid-Afrikaner het, soos in sy natuur, met 48 lopies van net 27 aflewerings sy stem dik gemaak toe sy span kniediep in die moeilikheid was.

Ofskoon hy nie op die veld was toe die wenlopies aangeteken is nie, was sy vier grenshoue en twee maksimums deurslaggewend om sy span oor die lyn te kry, met die boulheld Harshal Patel wat die nodige hou van die laaste aflewering af gespeel het.

Die span het ’n teiken van 160 gejaag en sewe van die laaste boulbeurt benodig, wat deur nog ’n Suid-Afrikaner, die jong Marco Jansen, afgestuur is.

Dit was inderdaad hoog drama met De Villiers wat uitgehardloop is terwyl hy ’n tweede lopie gejaag het.

RCB het toe twee lopies van twee aflewerings benodig en het ’n bylopie gekry voordat Patel deurgehardloop het vir die wenlopie.

“Dit was ’n ongelooflike krieketwedstryd, soos dit altyd die geval is teen Mumbai Indians,” het De Villiers in ’n televisieonderhoud agterna gesê.

“Daar is ’n rede waarom Mumbai die trofee al vyf keer gewen het en daar is ’n wonderlike atmosfeer rondom hulle. Dit was egter die uitdaging: om die kampioene te klop en baie selfvertroue daaruit te put. Ons het goed gedoen.”

Patel het vroeër in die kragmeting skade gemaak onder die Mumbai Indians se sterk kolflys nadat hulle sterk op pad was na ’n telling van rondom 180.

Die 30-jarige het vyf paaltjies platgetrek, insluitend drie in die laaste boulbeurt, om die verdedigende kampioene tot 159/9 te beperk.

Hardik Pandya, Ishan Kishan, Krunal Pandya, Kieron Pollard en Jansen was almal sy slagoffers met RCB wat net 25 lopies in die laaste vier boulbeurte afgestaan het.

Die aanvangskolwer Chris Lynn het met een lopie te min vir sy vyftigtal geval op sy buiging vir die Mumbai Indians nadat hy 49 van net 35 balle gemoker het. – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.