Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB de Villiers se Protea-dae finaal verby

Ná maande lange bespiegelinge en praatjies oor ’n moontlike terugkeer tot internasionale krieket is daar oplaas duidelikheid: AB de Villiers gaan nié weer vir die Proteas speel nie.

AB de Villiers se naam verskyn nie op die Proteas se T20-groep vir hul reeks van vyf wedstryde teen die Wes-Indiese Eilande nie. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag die Protea-groepe vir die toer na die Karibiese Eilande in Junie en Julie bekend gemaak en ook bevestig dat De Villiers ná verskeie gesprekke besluit het om nie sy uittrede uit internasionale krieket op te skort nie.

Dít kan moontlik daarop dui dat De Villiers dit oorweeg om binnekort uit alle krieket te tree.

Die groep vir die vyf T20-wedstryde sluit ook nie ander “vrye agente” soos Faf du Plessis of Chris Morris in nie. Veral die weglating van Du Plessis is ’n vreemde een. Ná sy uittrede uit toetskrieket vroeër vanjaar het hy dit duidelik gemaak dat hy nog beskikbaar is vir T20-krieket, veral met die oog op die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB), wat vir Oktober vanjaar in Indië gereël is.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het lankal volgehou dat die komende tydperk, wat toere na die Windies, Ierland, Sri Lanka en Indië insluit, gebruik sal word om die beste beskikbare span met die oog op die T20-WB saam te stel. Te oordeel na Du Plessis se skitterspel in die Indiese Premierliga (IPL), is hy sonder twyfel nog een van Suid-Afrika se beste witbalkolwers.

Victor Mpitsang, die nasionale hoofkeurder, het by navraag gesê Du Plessis se weglating beteken nie hy is nie meer in die prentjie nie.

“Die keurpaneel het gemeen hy word nie benodig vir dié toer nie, maar dit beteken nie hy is nie beskikbaar om vir die T20-WB gekies te word nie.”

Prenelan Subrayen is by die Proteas se toetsgroep vir die reeks teen die Wes-Indiese Eilande ingesluit. Foto: Gallo Images

In die toetsgroep is daar drie nuwelinge – die naatboulers Lizaad Williams en Marco Jansen en die draaier Prenelan Subrayen.

Williams het vroeër vanjaar sy T20-buiging gemaak, terwyl Subrayen nog nie internasionale krieket gespeel het nie. Dié draaibalbouler was ’n sleutelfiguur in die sukses wat die Dolphins onlangs behaal het.

Hy is saam met George Linde, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi een van vier draaiers in die toetsgroep.

Sarel Erwee, Kyle Verreynne en Keegan Peterson, wat almal reeds in ’n toetsgroep was, maar nog nie speelkans gekry het nie, is weer by die groep ingesluit.

Raynard van Tonder se weglating is ’n groot verrassing.

Toetsgroep: Dean Elgar (k), Temba Bavuma, Quinton de Kock, Sarel Erwee, Beuran Hendricks, George Linde, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Anrich Nortjé, Keegan Peterson, Kagiso Rabada, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Tabraiz Shamsi, Lizaad Williams, Prenelan Subrayen, Marco Jansen.

T20-groep: Temba Bavuma (k), Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Sisanda Magala, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Lizaad Williams.

• Die T20-groep sal ook na Ierland reis vir die T20- en eendagreeks, met die toevoeging van Keshav Maharaj.

• Bepalings vir wedstryde teen Windies:

10-14 Junie, 1ste toets, St. Lucia.

18-22 Junie, 2de toets, St. Lucia.

26 Junie, 1ste T20-wedstryd, Grenada.

27 Junie, 2de T20-wedstryd, Grenada.

29 Junie, 3de T20-wedstryd, Grenada.

1 Julie, 4de T20-wedstryd, Grenada.

3 Julie, 5de T20-wedstryd, Grenada.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.