Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB skitter Doer Onder, ‘wil vir Proteas speel’
AB de Villiers moker ’n bal grens toe in sy debuut vir die Brisbane Heat op die Gabba. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse kolfgenie AB de Villiers het met die intrapslag in Australië sy teenwoordigheid laat geld en toe ook laat glip daar is ’n kans dat hy later vanjaar daar vir die Proteas kan speel.

Dié voormalige Protea het Dinsdag sy debuut vir die Brisbane Heat in die Aussies se Big Bash-T20-liga gemaak en sy span, voor hul tuisskare op die Gabba, tot ’n maklike oorwinning oor die Adelaide Strikers help voer.

Die Strikers is vir net 110 lopies uitgeknikker danksy ’n vyftal aan paaltjies vir die Aussie-toetsbouler James Pattinson (5/33). De Villiers het volgens fox.com.au ’n puik vangskoot op vlak dekpunt benut om aan Pattinson sy vyfde paaltjie en beste boulsyfers tot nog toe in dié liga te bied.

Die Heat se kolfbeurt het daarna wankelrig begin en De Villiers het sy toetrede met die telling op 11/2 gemaak.

Hy het egter blitsvinnig ’n grenshou teen die Engelse draaier Rashid Khan gelooi en daarna geduldig aan ’n beurt van 40 lopies (32 balle, 5 viere) gebou voordat hy op diepby uitgevang is. Danksy sy beurt en dié van Matthew Renshaw (52, 45 b) het die Heat die wenteiken in die 16de boulbeurt met slegs drie paaltjies plat bereik.

Faf du Plessis, die Proteas se kaptein, het in Desember onthul dat daar pogings is om De Villiers weer vanjaar by die Proteas se veldtog in die T20-Wêreldtoernooi in Australië te betrek. Dié toernooi word in Oktober en November beslis.

Toe die 35-jarige De Villiers Dinsdag ná sy Big Bash-debuut hieroor uitgevra is, het hy gesê baie sal nog moet gebeur voor dit ’n werklikheid kan word, maar dat hy graag vir sy land sal wil speel, berig cricket.com.au.

’n Ondersteuner neem ’n selfie saam met AB de Villiers. Bykans 20 000 toeskouers was Dinsdag by die Gabba in Brisbane vir sy Big Bash-debuut. Foto: Getty Images

“Ek het met Bouch (Mark Boucher, die Proteas se nuwe afrigter), Graeme Smith (Krieket Suid-Afrika se tussentydse direkteur van krieket) en Faf in Suid-Afrika gepraat. Ons almal wil hê dit moet gebeur.

“Dis nog ’n lang ruk weg en baie kan nog gebeur – daar is ’n IPL wat voorlê en my peil sal goed moet wees.

“So ek dink daaraan om my naam in die hoed te gooi en hoop dat alles sal uitwerk. Dis weer eens nie ’n waarborg nie. Ek wil nie myself of ander mense teleurstel nie en probeer om ’n lae profiel te handhaaf. Ek sal my beste krieket probeer speel en kyk wat gebeur teen die einde van die jaar.”

De Villiers, wat einde verlede jaar ook vir die Tshwane Spartans in die Mzansi-superliga in Suid-Afrika gespeel het, sal later vanjaar vir die Royal Challengers Bangalore sy slag wys in die Indiese Premierliga.

Meer oor:  T20  |  Big Bash  |  Ab De ­Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.