Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB skitter in dramatiese sege vir RCB

Die Royal Challengers Bangalore (RCB), met AB de Villiers voor in die koor, kon Maandagaand op dramatiese wyse vir Mumbai Indians troef ná die tweede super-boulbeurt van vanjaar se Indiese Premierliga-reeks.

RCB is bekend vir die wyse waarop hulle voorheen al oorwinnings weggesmyt het wanneer ’n wen byna ’n sekerheid was.

Dié slag het De Villiers en Virat Kohli verseker dat die vreugdevure vanaand kan brand in Doebai, waar die kragmeting beslis is, en Bangalore nadat die Indiese kaptein met die laaste bal van die super-boulbeurt die wenlopies kon slaan.

Dit was egter so byna dieselfde hartseer storie wat homself weer vir RCB afgespeel het.

Vir die grootste deel van die wedstryd was dié span in beheer van sake.

AB de Villiers. Foto: Getty Images

Vyftigtalle deur Devdutt Padikkal (54), Aaron Finch (52) en De Villiers (55*) het RCB toegelaat om ’n uitdagende teiken van 202 aan die verdedigende kampioen te stel.

Mumbai Indians se aanslag met die kolf het ’n nagmerrie-begin gehad toe hy op 39/3 gesteier het met Rohit Sharma (8), Suryakumar Yadav (0) en Quinton de Kock (14) wat nie een veel tyd voor die penne spandeer het nie.

Met Hardik Pandya en Ishan Kishan wat die span weer op koers moes kry, het dit gelyk of die skrif aan die muur is toe Pandya (15) terug kleedkamer toe moes stap.

Teen die tyd wat die 16de boulbeurt afgestuur is, was Mumbai Indians op 122/4. Hulle het 80 lopies van die laaste vier boulbeurte benodig, ’n taak wat in daardie stadium onmoontlik gelyk het.

Kishan en Kieron Pollard het egter ander planne gehad.

Kishan, in sy eerste wedstryd van die seisoen, het RCB se boulers stukkend gemoker op pad na sy 99 van net 58 aflewerings, met Pollard wat self geskitter het met die kolf vir sy 60 van net 24 aflewerings.

Dié twee het verseker dat RCB in die laaste vier boulbeurte nie minder nie as 79 lopies afgestaan het.

Pollard het veral vir Adam Zampa laat deurloop in die 17de boulbeurt waar hy 27 lopies aangeteken het danksy drie sesse en ’n vier.

Yuzvendra Chahal is ook nie veel genade getoon nie en hy het 22 afgestaan in die daaropvolgende boulbeurt.

Mumbai Indians het 19 van die laaste boulbeurt benodig, met Kohli wat die bal aan Isuru Udana gegee het.

Die eerste twee balle het ten koste van twee lopies gekom, maar toe slaan Kishan ’n ses van die derde toe Gurkeerat Singh Mann ’n vangskoot laat val het by diepweg.

Die linkerhandse kolwer het die volgende bal ook vir ’n maksimum gepiets om sy telling tot 99 op te skuif, voordat hy met ’n enkele lopie kort geval het van sy honderdtal toe hy by middebaan gevang is.

Pollard het seker van die super-boulbeurt gemaak toe hy die bal grens toe gestuur het met die laaste aflewering.

Mumbai Indians is eerste ingestuur om te kolf in die super-boulbeurt, maar Pollard en Pandya kon net 7 lopies aanteken danksy goeie boulwerk deur Navdeep Saini.

De Villiers en Kohli het toe Jasprit Bumrah se aanslag oorleef om die span deur te dra.

TELKAART

Meer oor:  T20  |  Rcb  |  Ab De ­Villiers  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.