Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
AB verlig trommel is gevind

Die voormalige Protea-kolwer AB de Villiers sê hy en sy vriende kan hulle eintlik gelukkig ag dat hul “geheime” trommel dié week op die terrein van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria opgegrawe is.

AB de Villiers in 2002 vir die eerste span van die Afrikaanse Hoër Seunskool teen Hoërskool Nelspruit in aksie. Foto: Afrikaanse Hoër Seunskool

De Villiers en sewe van sy vriende, Derick Kuün, Cliff Milton, Sarel Potgieter, Basil de Doncker, Willem Taute, Willem Fraser en Herman van der Laan, het op die aand van hulle laaste skooldag in 2002 besluit om in die geheim ’n trommel naby die skool se booghek te begrawe waarin elkeen van hulle iets gebêre het.

Konstruksiewerkers wat by die skool doenig is, het dit Dinsdag gevind toe hulle opgrawings gedoen het om waterpype te vervang.

Volgens De Villiers, wat in Mei uit alle weergawes van internasionale krieket getree het, het elkeen van hulle ook ’n brief geskryf oor waar hulle oor 10 jaar wil wees.

“Ongelukkig het nie een van die briewe bewaar gebly nie en snaaks genoeg, is die lys name al wat oorgebly het. So kon hulle ten minste sien dit was ons trommel,” het De Villiers Donderdag by navraag gesê.

Hy het gesê in daardie stadium was hy nog nie seker watter sportsoort hy professioneel wou beoefen nie.

“Ek het in my brief gevra of dit rugby of krieket gaan wees, en die Here gevra om my te lei. Ek het toe so ’n bietjie meer na krieket oorgeleun, maar ek het rugby eintlik nog altyd ’n bietjie meer geniet. Daar is min dinge wat by ’n lekker agterlynbeweging kan kersvas hou.”

Ek het toe so ’n bietjie meer na krieket oorgeleun, maar ek het rugby eintlik nog altyd ’n bietjie meer geniet. Daar is min dinge wat by ’n lekker agterlynbeweging kan kersvas hou.
AB de Villiers

De Villiers het een van sy eerstespan-rugbytruie in die trommel gesit, met ’n bottel vonkelwyn en ’n spul sigare wat ook begrawe is.

“Die plan was om dit oop te maak wanneer ons die ding weer opgegrawe het, maar dit het ook nie behoue gebly nie.”

Hoewel die gedagte aanvanklik was om dit op hul tienjaar-reünie uit te haal, moes hulle dit uitstel tot 2022. De Villiers glo egter dit was dalk ’n bedekte seën dat die trommel gevind is voordat die konstruksiewerk voltooi is.

“Ek dink ons was gelukkig dat hulle daarop afgekom het, anders was dit dalk vir ewig daar versteek,” het De Villiers gesê.

Affies se eerste rugbyspan van 2002. AB de Villiers, Derick Kuün, Heino Kühn en Pierre Spies was onder meer deel van die groep. Foto: Afrikaanse Hoër Seunskool

Sy eerstespan-krieketbreier by Affies, Deon Botes, en een van sy spanmaats, Louis du Plessis, was wel bewus van dié trommel en het selfs een aand daarna gaan soek.

“Ek en Louis het een aand in 2005 by die skool gebraai toe hy vir my vertel het dat hy graag ’n eerstespan-rugbytrui wil hê,” het Botes gesê. “Ons het min of meer geweet waar die trommel is en met ’n paar grawe daar ingevaar om dit te probeer opspoor. Ons pogings was egter onsuksesvol. Ek het glad nie besef hoe diep hulle dit begrawe het nie,” het Botes gesê.

Die eerste keer toe ek vir Affies se Wit Bulle (die eerste rugbyspan) uitgedraf het, is steeds my spesiaalste oomblik voor enige skare.
AB de Villiers

De Villiers het gesê dat die trommel en sy inhoud groot sentimentele waarde het.

“Affies is waar alles vir my begin het. Dis waar ek die eerste keer voor ’n groot skare uitgedraf het. Die eerste keer toe ek vir Affies se Wit Bulle (die eerste rugbyspan) uitgedraf het, is steeds my spesiaalste oomblik voor enige skare.”

Die plan vir ’n “tydkapsule” het by sy broer, Wessels, begin. Hy het in sy matriekjaar in 1996 ook ’n trommel begrawe.

AB de Villiers en Deon Botes, De Villiers se destydse krieketbreier by Affies, hou sy eerstespan-rugbytrui vas wat 16 jaar in ’n trommel onder die grond begrawe was. Foto: William Brown

“Ek dink hulle s’n is nog êrens onder die grond by die skool,” sê De Villiers.

Volgens die voormalige Protea-ster is hul trommel-plan destyds so ampertjies in die wiele gery toe hul eerstespan-afrigter, Sakkie van der Walt, hulle byna betrap het.

“Dit was amper of ons is uitgevang toe Sakkie van ’n onthaal teruggekeer het terwyl ons besig was om te grawe. Ons was nogal paniekerig, want hy is nie iemand wat kattekwaad duld nie. Ons het almal rondgeskarrel en agter die bosse ingeduik totdat hy verbygery het.”

Van der Walt sê hy het eers onlangs van dié episode uitgevind.

“AB het my by die bekendstelling van sy outobiografie daarvan vertel, maar voor dít was ek van niks bewus nie,” het Van der Walt gesê.

Die groep vriende sal nou besluit wat met die inhoud van die trommel gaan gebeur, maar De Villiers meen dit sal aan die skool geskenk word.

Meer oor:  Ab De Villiers  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.