Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Afgaanse draaier laat SA jonges bloos

Die goëlbalbouler Shafiqullah Ghafari het Suid-Afrika met ’n skittervertoning met 6/15 Vrydag in Kimberley kis gedraai in Afganistan se skoksege met sewe paaltjies oor die gasheer van die o.19-Wêreldbeker-toernooi.

Gerald Coetzee het manmoedig gekolf vir sy 38 lopies voordat hy ook deur Shafiqullah Ghafari (6/15) skoongeboul is Vrydag in Kimberley.Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaners is vir net 129 in net 29.1 boulbeurte met Ghafari aan die voorpunt in die openingswedstryd uitgeknikker.

Afganistan, bygestaan deur Andy Moles, wat voorheen daar vir Griekwas gespeel het, het die gasheer opnuut laat bloos deur met 130/3 in 25 beurte te antwoord.

Ghafari moes gedink het hy is in Kaboel en nie in Kimberley nie. Hy het vier van sy slagoffers skoongeboul.

Die kolwers het behoorlik gesukkel om sy aflewerings te lees.

Hy is goed bygestaan deur sy mede-draaier Noor Ahmad (2/44), wat vandeesmaand 15 geword het.

Suid-Afrika was gou op die agtervoet oomblikke na Graeme Smith, direkteur van krieket, se bemoedigende woorde met hul spanpraatjie.

Die hotklou-aanvangsbouler Fazal Haque (2/43) het Suid-Afrika met twee paaltjies in sy eerste twee boulbeurte geskud.

Bryce Parsons (40), wat die loot gewen het, het weliswaar saam met Luke Beaufort (25) op 7/2 vir ’n ruk vasgeskop.

Suid-Afrika het danksy die 20 lopies wat die naatbouler Abdul Rahman in sy vierde boulbeurt afgestaan het, 56/2 na tien beurte gehad.

Suid-Afrika het net mooi herstel van die skok aan die begin toe die Afgane hul voorslagdraaiers aangebring het. As dit vroeër gebeur het, was die skade dalk groter.

Ahmad (2/44) het ’n einde aan Parsons-hulle se vennootskap van 55 om die derde paaltjie gemaak.

Hy het gewys hoekom hy hom as 14-jarige op die lys van hoopvolles met die IPL-veiling in Desember bevind het.

Die gasheer het met Parsons se vertrek van 62/2 tot 90/8 ineengestort.

Gerald Coetzee (38, 23b) het op nommer nege met ’n aanvallende kolfbeurt effense aansien aan die Suid-Afrikaners se beurt gegee.

Coetzee (0/36 in 5 beurte) kon nie dieselfde met die bal regkry nie.

Die toetskolwer Ibrahim Zadran (52) en Imran Mir (57) het vir Afganistan met die kolf uitgeblink.

Die aanvangsbouler Achille Cloete (2/20) het met paaltjies aan die begin en aan die einde die beste met die bal vir Suid-Afrika gevaar.

*Suid-Afrika pak Kanada in sy volgende groepwedstryd Woensdag in Potchefstroom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.