Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aiden: ‘Ek is terug by die begin’

Aiden Markram speel sy krieket nou met die ingesteldheid dat sy loopbaan “weer by nul” begin.

“Ek dink daaraan asof ek nog nooit vir Suid-Afrika gespeel het nie,” het dié 25-jarige aanvangskolwer Maandag aan Netwerk24 gesê.

Aiden Markram het Sondag in Johannesburg ’n puik honderdtal vir die Titans geslaan onderweg na hul sege oor die Lions. Foto: Gallo Images

Markram het ’n rowwe ses maande agter die blad. In Oktober het hy sy frustrasie ná ’n toets in Indië teen ’n “soliede voorwerp” uitgehaal en sy hand gebreek.

Hy het van sy besering herstel, net om sy vinger vroeg in die toetsreeks teen Engeland in ’n veldwerkoefening te kraak.

Hy was vir twee maande langs die kantlyn en het sy terugkeer einde Februarie vir die Titans gemaak. Sedertdien het hy reeds twee honderdtalle geslaan – een in Kimberley teen die Knights en een Sondag in moeilike kolftoestande teen die Lions op die Wanderers.

“Ek kan nie onthou dat ek ná skool al soveel tyd weg van krieket gehad het nie. Die eerste besering was frustrerend, want dit was my eie toedoen.

“Die vingerbesering is iets wat met 80% van krieketspelers in hul loopbaan gebeur, so ek het dit aanvaar. Die laaste twee weke het ek wel kriewelrig begin raak.”

Markram is terug op dreef, maar wil vir eers slegs op die Titans fokus.

En dis net reg so, want ek het al baie kanse gehad, veral in witbalkrieket, en ek kon dit nog nooit aangryp nie.
Aiden Markram

“Ek dink nie eens aan die Proteas nie. Dit is onnodige druk. Ek benader dit asof ek heeltemal van vooraf begin.

“As jy my ses jaar gelede gevra het of ek dink ek gaan vir Suid-Afrika speel, sou ek ‘nee’ gesê het. Ek benader dit asof ek weer daar is.

“En dis net reg so, want ek het al baie kanse gehad, veral in witbalkrieket, en ek kon dit nog nooit aangryp nie. Ander ouens het nou geleenthede gekry en dit gevat en ek is baie bly vir hulle,” sê Markram.

In 26 eendagwedstryde vir Suid-Afrika kon Markram nog net twee vyftigtalle aanteken. Sy gemiddeld van 27.95 weerspieël nie sy talent nie.

Sy toetsloopbaan het in 2017 in die snelbaan begin en ná sy eerste tien toetse het hy reeds vier honderdtalle en drie vyftigtalle aangeteken. In die tien toetse daarna kon hy egter net drie vyftigtalle slaan en sy gemiddeld het teruggesak na 38.48.

’n Probleem wat hy ondervind het, veral in witbalkrieket, was ’n onvermoë om effens briek te trap sodra sy beurt lekker aan die gang kom. Dit was amper asof hy deur sy eie vermoë verlei word – hy sou gereeld sy paaltjie met ’n uitspattige hou verloor net nadat hy die bal met ’n dryf- of kaphou uit die handleiding grens toe gejaag het.

Nou, vir die Titans, is dit iets waaraan hy werk.

“Ek fokus daarop om lopies op die moeilike manier aan te teken. Ek het daarmee gesukkel om ’n rat terug te skakel, maar dit gebeur vanself as jy die ingesteldheid het om dit op die moeilike manier te doen.

“Dit voel darem of ek goed beweeg. Die honderdtal in Kimberley was frustrerend, want ek moes dit ’n grote gemaak het. Daar was baie tyd oor om die wedstryd buite hul bereik te plaas.

“Die een teen die Lions was bevredigend, want dit was ’n uitdagende blad en dit het tot ’n sege bygedra.

“Ons (Titans) is nou in ’n posisie waar ons die laaste twee groepwedstryde in die eendagreeks moet wen om deur te dring. My fokus is om die span te help om dit te doen. Ek verwag glad nie ’n (Protea-)oproep nie.”

Linda Zondi, die sameroeper van die keurkomitee, het verlede week vir Johann de Jager gesê Markram is slegs oor die hoof gesien vir die toer na Indië omdat hy so lank buite aksie was.

Zondi het die versekering gegee dat Markram glad nie uit die Protea-prentjie is nie.

Meer oor:  Titans  |  Krieket  |  Indië  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.