Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aiden Markram maak dit drie in ’n ry
Aiden Markram. Foto: Gallo Images

Aiden Markram, aanvangskolwer van die Titans, het ’n rare mylpaal behaal toe hy Woensdag in hul eerste beurt in die meerdagwedstryd teen die Cape Cobras sy derde agtereenvolgende honderdtal op SuperSportpark aangeteken het.

Markram (113) en Neil Brand (115) het met 176 lopies om die tweede paaltjie die Titans gehelp om 440 aan te teken in antwoord op die Kapenaars se 411.

Die Cobras sal Donderdag op die laaste dag hul tweede beurt op 33/0 voortsit.

Markram het in sy vorige wedstryd daar teen die Warriors 149 en 121 aangeteken.

Die Cape Cobras se Stiaan van Zyl was in die 2016-’17-seisoen die laaste kolwer om dit in die plaaslike meerdagreeks te vermag. Hy het 106 in hul tweede beurt teen die Knights in die Paarl aangeteken en dit met beurte van 108 en 101* teen die Dolphins in Durban opgevolg.

Mike Procter het in die 1970-’71-seisoen ’n rekord ses agtereenvolgende honderdtalle aangeteken.

TELKAART

• Die Dolphins is die nuwe voorlopers in Groep A nadat Daryn Dupavillon hulle met ’n wedstrydontleding van 11/104 tot ’n sege met vyf paaltjies oor die Knights in Durban geboul het.

Die Protea-naatbouler het sy 7/38 in die eerste beurt met 4/66 opgevolg op ’n dag waarin 13 paaltjies in 47.4 beurte gekantel het.

Die Knights het Woensdag hul tweede beurt op 150/2 met ’n voorsprong van net 13 lopies voortgesit. Hulle is vir 213 uitgeboul nadat hulle hul laaste agt paaltjies vir 57 lopies verloor het.

Die tuisspan moes toe 77 aanteken om te wen, maar het in die proses vyf paaltjies verloor. Hulle het met die sege 66.42 punte ná vier wedstryde teenoor die 62.90 van die Knights.

TELKAART

Wiaan Mulder. Foto: Gallo Images

• Die Lions is op St. Georgepark teen die Warriors goed op koers na ’n tweede agtereenvolgende sege.

Die veelsydige Wiaan Mulder was onoorwonne op 100 in die Baai toe die Lions hul tweede beurt op 241/5 gesluit verklaar het. Dit het die Warriors met ’n teiken van 513 lopies gelaat om te wen.

Mohammad Vallie (85) en Rudi Second (76*) het die Warriors gehelp om tot op 219/5 met uitskeityd op die derde dag te vorder.

TELKAART

Meer oor:  Wiaan Mulder  |  Meerdagreeks  |  Meerdagkrieket  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.