Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aiden se woedebui lei tot besering

In dieselfde week wat die Australiese krieketspeler Mitch Marsh sy hand gebreek het nadat hy ’n muur geslaan het, het ’n soortgelyke voorval daartoe gelei dat die Protea-aanvangskolwer Aiden Markram die derde toets teen Indië gaan misloop.

Aiden Markram (regs) gaan nie in die derde toets teen Indië speel nie. Dean Elgar (links) sal dus ’n nuwe aanvangsvennoot kry. Foto: Gallo Images

In ’n ietwat vae verklaring wat Krieket Suid-Afrika (KSA) Donderdagoggend uitgereik het, sê dié beheerliggaam Markram het sy regter-polsgewrig beseer tydens die tweede toets in Pune, wat die Proteas met ’n beurt en 137 lopies verloor het.

Die voorval het plaasgevind nadat Markram sy paaltjie in die tweede beurt verloor het. Hy is vir ’n nulletjie been voor paaltjie uitgegee en het besluit om nie die beslissing te verwys nie. Die kykweer het gewys die bal sou die bypen mis.

Markram het “in ’n oomblik van frustrasie met sy eie vertoning, sy woede op ’n soliede voorwerp uitgehaal, wat tot sy besering gelei het”. ’n Woordvoerder van KSA is gevra of Markram ook, soos Marsh, ’n muur geslaan het.

“Die verklaring bevat al die inligting wat vrygestel gaan word,” was die woordvoerder se antwoord.

Die Proteas se spandokter, Hashendra Ramjee, sê ’n skandering het ’n fraktuur in Markram se polsgewrig getoon.

Markram aanvaar volle aanspreeklikheid vir sy besering.

Dit is hartseer om op so ’n noot huis toe te gaan en ek verstaan heeltemal wat ek gedoen het, is verkeerd.

“Dit is hartseer om op so ’n noot huis toe te gaan en ek verstaan heeltemal wat ek gedoen het, is verkeerd,” sê Markram, wat die toer met tellings van 5, 39, 0 en 0 afsluit.

“Dit is onaanvaarbaar in die Protea-omgewing en om die span in die steek te laat, is wat my die seerste maak.

“Ek het baie hieruit geleer en ek is seker die ander spelers het ook.” Dit is onduidelik of hy hier na die vrot vertonings op die toer verwys, of na die voorval waartydens hy sy gewrig gebreek het.

“Ons weet dat die gemoedere in sport soms opvlam en soms neem daardie frustrasie oor, maar dit is nie ’n verskoning nie.

“Ek het die span om verskoning gevra en hopelik kan ek vergoed hiervoor vir hulle en die mense in Suid-Afrika.”

Geen plaasvervanger is opgeroep nie, wat beteken dat Zubayr Hamza waarskynlik ’n kans in die elftal gaan kry wanneer die derde toets Saterdag in Ranchi begin.

Temba Bavuma kan moontlik die beurt begin in die derde toets tussen Suid-Afrika en Indië in Ranchi. Foto: Gallo Images

Die tameletjie waarmee Faf du Plessis (kaptein) en Enoch Nkwe (afrigter) egter sit, is dat daar nou nie ’n spesialis-aanvangskolwer is wat die beurt saam met Dean Elgar kan begin nie.

Quinton de Kock begin die beurt in eendagkrieket, maar sal nie daar ingespan word in ’n toets nie. Theunis de Bruyn het al die beurt vir Suid-Afrika begin, terwyl Temba Bavuma die ander groot kandidaat is om die taak vir die derde toets te verrig.

Elgar sê die toer is ’n goeie leerkurwe vir die jonger lede van die span.

“Dit is geen geheim dat dit ’n uitdagende toer vir ons is nie, ons het nie ons beste krieket gespeel nie,” erken Elgar.

“Die senior ouens probeer die ander spelers gemotiveerd hou. Ons verteenwoordig steeds ons land en daar is een toets oor waarin ons dinge kan omkeer, so alles is nie verlore nie.”

Volgens hom verander die Toetskampioenskap ’n span se ingesteldheid wanneer ’n reeks reeds verlore is.

“In die verlede kon jy so ’n toets dalk betree het met een voet reeds op die vliegtuig. Maar nou is daar steeds baie op die spel, ons kan steeds 40 punte kry as ons die toets wen.”

Meer oor:  Mitchell Marsh  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.