Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ali gee raad: Ottis moet Faf aanvul

Daar moet nie nou gedink word dat Ottis Gibson met die swaai van ’n towerstaf Suid-Afrika weer die voorste toetsspelende krieketland ter wêreld gaan maak nie.

Dr. Ali Bacher glo Ottis Gibson moet as afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan meer ’n ondersteunende rol speel. Foto: Gallo Images

Só sê dr. Ali Bacher, ’n eertydse kaptein van die Suid-Afrikaanse toetsspan en ook later Suid-Afrikaanse krieketbaas.

Bacher het Donderdag gesê hy het geen probleem daarmee dat Krieket Suid-Afrika (KSA) nou vir hulle ’n afrigter buite die grense van die land gaan werf het nie.

“Tye het verander en in 2017 kan ingesien word dat daar na oorsese afrigters gekyk word,” sê hy van Gibson, wat van Barbados in die Wes-Indiese Eilande afkomstig is en tans nog die boulafrigter van Engeland is.

“Ek wens hom alles van die beste toe, maar daar is wel iets wat my so effens kwel. Dit is dat Michael Holding (die eertydse snelbouler van die Windies) wat ek beskou as een van die mees gerespekteerde krieketkenners en -kommentators ter wêreld, sê dat Ottis Gibson ’n goeie boulafrigter is, maar dis al. Hy is té ordentlik om daarop uit te brei, maar dit laat jou nogal dink dat hy só iets sou sê.

“Jy kan Gibson ook nie eintlik oordeel op die tydperk wat hy hoofafrigter van die Windies was nie. Hulle was toe in so ’n warboel dat geen afrigter ter wêreld daar sou oorleef het nie.

“Ek sal graag wil sien dat hy iemand soos Geoffrey Toyana (die Lions-afrigter) by sy afrigtingspan betrek. Van die assistente saam met Russell Domingo wat goed gevaar het, glo ek moet ook behou word,” sê hy.

Volgens Bacher is die kaptein van die SA krieketspan die belangrikste in dié opset. Die afrigter se rol is om die spelers te bestuur en na die sielkundige sy van sake om te sien. “Hy moet die kaptein en spelers kan ondersteun. Dit is waar Gary Kirsten destyds so ’n goeie rol by Indië gespeel het. Hy het die ondersteunende rol gespeel en het nie gekarring met die tegniek van ’n speler soos Sachin Tendulkar nie.

Ottis Gibson, die Proteas se nuwe hoofafrigter. Foto: Getty Images

“Die kaptein is die een wat voor hardloop en ek is baie in my skik met Faf du Plessis as leier. Ek glo Gibson moet net aanvullend tot hom wees,” sê Bacher.

“Ek glo ook daar was nog net een afrigter-ghoeroe wat sy stempel oor meer as twee dekades op ’n sportspan kon afdruk, en dit was sir Alex Ferguson (Manchester United se afrigter).

“Die ander moet maar besef hulle is net daar vir vier of vyf jaar en dan moet iemand met nuwe en ander vars idees weer aangestel word,” reken Bacher.

Hy het ook AB de Villiers se besluit om hom weer in alle formate van die spel vir die SA span beskikbaar te stel as “wonderlike nuus vir ons krieket” beskryf.

“AB is ’n inspirerende speler en mens. Al wou hy die kaptein wees tot die volgende Wêreldbeker, het hy besef Faf is die beter kaptein en dat hy vir hom moet terugstaan.

“Hy het besluit hy sal Faf steun dit wys die gehalte van AB as ’n mens,” sê Bacher.

Meer oor:  Proteas  |  Ottis Gibson  |  Ali Bacher  |  Faf Du Plesiss
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.