Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dit is amptelik die einde van die Kolpak-era

Die Engelse Krieketraad (ECB) het sy graafskapspanne Donderdag amptelik in ’n skrywe ingelig dat alle Kolpak-ooreenkomste op 1 Januarie 2021 verval.

Simon Harmer is een van Essex se waardevolste spelers. Foto: Getty Images

Dít beteken dat Suid-Afrikaners wat tans met Kolpak-kontrakte as “plaaslike spelers” in Engeland speel, onder andere Kyle Abbott, Simon Harmer, Duanne Olivier en Rilee Rossouw, voortaan weer vir Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Trouens, die ECB skryf dat huidige Kolpak-spelers reeds nou al die opsie het om hul klassifikasie te verander na dié van ’n oorsese speler, wat kan beteken dat daardie spelers onmiddellik weer vir die Proteas kan speel. Dis egter nog nie duidelik of enige Kolpak-speler nou al daardie opsie sal uitoefen nie.

Kolpak-kontrakte kom weens Brexit tot ’n einde, aangesien dit aan ’n ooreenkoms, die Cotonou-ooreenkoms, tussen sekere Afrika-, Karibiese en Suidsee-lande en die Europese Unie (EU) onderhewig is.

Aangesien Brittanje nou die EU verlaat, kom hierdie ooreenkomste tot ’n einde.

As Suid-Afrikaners voortaan in Engeland wil gaan speel, sal dit as oorsese spelers wees en sal hulle, anders as met die Kolpak-ooreenkoms, steeds vir Suid-Afrika in aanmerking kan kom.

Dit is nog onduidelik hoeveel van die huidige Kolpak-spelers wel as oorsese spelers by hul graafskapspanne sal aanbly en of hulle nog die wil het om vir Suid-Afrika te speel.

Abbott het aan Netwerk24 bevestig dat hy, sy agent en Hampshire vandeesweek oor sy toekoms sal vergader.

Kyle Abbott gaan vandeesweek sy toekoms met sy agent en Hampshire bespreek. Foto: Getty Images

’n Speler soos Harmer is een van Essex se sterspelers en hulle sal hom waarskynlik graag as ’n oorsese speler wil behou. Hy kan ook ’n groot aanwins vir die Proteas wees.

Die einde van die Kolpak-era beteken ook dat daardie spelers weer as plaaslike spelers in Suid-Afrika kan speel, maar onsekerheid oor hoe die plaaslike struktuur vanaf die 2021-’22-seisoen gaan lyk, maak dit vir die provinsies en franchises moeilik om nou al aan kontraktering te dink.

Die huidige struktuur – van ses franchises en 15 provinsiale spanne – verval ná die 2020-’21-seisoen. Al die spanne kon hul spelers dus net ’n kontrak van ’n jaar aanbied.

Die voormalige uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad, David Richardson, lei Krieket Suid-Afrika (KSA) se herstruktureringskomitee, wat moet besluit hoe die struktuur ná die huidige seisoen gaan lyk. Dié komitee moet besluit of die franchises behoue bly, of die franchises vermeerder of verminder moet word, en of daar na ’n provinsiale reeks terugkeer moet word.

Die Covid-19-pandemie en die onsekerheid wat tans in die KSA-raadsale heers, het die komitee se werk vertraag, maar na wat verneem word, is planne vir die toekomstige provinsiale struktuur in ’n gevorderde stadium.

Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), sê klarigheid in dié verband is noodsaaklik.

“Dit is baie belangrik dat ons duidelikheid kry oor die plaaslike struktuur van volgende jaar af, want dit het ’n groot invloed op hoe spelers gekontrakteer kan word,” sê hy.

Spanne sal verkieslik teen die einde van die jaar duidelikheid wil hê sodat hulle met kontraktering kan begin.

Die toekomstige struktuur sal waarskynlik vir minder beroepspelers voorsiening maak. As voormalige Kolpak-spelers dan ook beskikbaar is om deur plaaslike spanne gekontrakteer te kan word, kan dit die gehalte van plaaslike krieket ’n reuse-hupstoot gee met net die beste spelers wat gekontrakteer sal word.

Meer oor:  Graafskap  |  Kolpak  |  Ecb  |  Graafskapkrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.