Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hudson: ‘Krieket 1ste, grootbase 2de’

Toe Andrew Hudson agterkom dat administrateurs meer as spelers op die agterblaaie van koerante begin pronk, het hy besef daar is ’n groot probleem.

Andrew Hudson
Andrew Hudson is terug by Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Hy wou kyk of hy nie dalk deel van die oplossing kan wees nie. Daarom het die voormalige Protea-aanvangskolwer en gewese keurbaas besluit om sy CV in te stuur vir ’n posisie as onafhanklike raadslid in Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe raad.

Die onafhanklike benoemingspaneel, wat KSA se agt onafhanklike raadslede aangestel het, het ook gevoel Hudson kan deel van ’n nuwe era in Suid-Afrikaanse krieket wees en hy is in die nuwe raad aangestel.

“Spelers moet die hoofopskrifte van ’n koerant soos Rapport oorheers. Die administrateurs moet nie op die agterblaaie wees nie,” het Hudson die afgelope week gesê.

Hudson was die nasionale hoofkeurder tussen 2010 en 2015 – ’n tydperk waarin die Proteas oorheers het en die nr. 1-toetsspan geword het.

“Dit is nou ses en ’n half jaar sedert ek klaargemaak het. In daardie tydperk, van 2010 tot 2015, het ek saam met Gary Kirsten, Russell Domingo en verskeie mense in die raad gewerk. Ek was die voorsitter van ’n goeie keurpaneel,” sê Hudson.

Voor dit het hy ’n eersterangse loopbaan van 16 jaar gehad en het die Proteas tussen 1992 en 1998 in 35 toetse en 89 eendagwedstryde verteenwoordig.

“Toe ek as keurder begin het, was dit interessant om te sien hoe krieket aanbeweeg het sedert my loopbaan klaargemaak het. Ek kon sien hoe die spel vooruitgang gemaak het, hoeveel beter en meer professioneel dit was vergeleke met my tyd.

“Sedertdien het ek dit gemis om deel van die spel te wees, maar ek het gevoel ek het die spel gedien en iets teruggegee. Ek ag myself gelukkig om deel van daardie era te kon wees.

“Dit was ’n uitstekende span – (Graeme) Smith en (Mark) Boucher en (Dale) Steyn en (Hashim) Amla, (JP) Duminy – dit was ouens wat op hul kruin was.

“In ’n stadium was ons terselfdertyd die nr. 1 op die ranglys in elke formaat. In die toetsformaat was ons altyd of nr. 1 of nr. 2 in my tyd.”

Ek wil die ou wees wat sê kom ons kry die spelers – mans en vroue – terug op die voorblaaie.

Dit is daardie institusionele kennis wat van hom ’n waardevolle lid van KSA se nuwe raad sal maak. Maar hy bring nie nét krieketkennis nie.

“Ek is mal oor die sakewêreld,” sê die 56-jarige Hudson.

“Ek is al sedert die einde van my speelloopbaan in daardie rigting. Ek is nou al geruime tyd in ’n senior posisie by FNB en ek geniet die strategiese en implementeringsy daarvan. Ek is reeds 18 jaar by First Rand betrokke.”

Die laaste paar jaar het hy “die probleme en frustrasies” by KSA gesien en gevoel hy kan ’n bydrae lewer, “vanuit ’n krieket-, sake- én raadsperspektief”.

“Toe ek klaargemaak het as ’n keurder – waar ek in elk geval nie binnekennis van raadsbesluite gedra het nie, my fokus was daarop om talent deur te bring, om te wen en te transformeer – het ek nie soveel kennis gehad van wat aangaan by KSA nie.

“Ek weet maar wat in die media berig is en wat ’n paar mense in die binnekring vir my vertel het. Ek weet nie genoeg oor wat in die laaste ses jaar gebeur het om te kan sê dít was die rede (vir die verval) nie, want ek was nie daar nie.”

Hy betree die pos met ’n oop gemoed.

“Ek wil die ou wees wat sê kom ons kry die spelers – mans en vroue – terug op die voorblaaie. Kom ons herbou ons geloofwaardigheid as ’n krieketonderneming, sodat ons spelers kan skitter en ons trots kan wees op hulle. Dit is my dryfveer.

“Ek gaan blootgestel word aan ’n sekere dinamika binne Krieket Suid-Afrika en ek gaan sekere goed leer en mense ontmoet en ek sal besluite moet neem as ’n onafhanklike raadslid. Dit is my verantwoordelikheid.”

Die Protea-toetskaptein, Dean Elgar, het in die week gesê hy hoop die nuwe raad van 15 kan ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse krieket inlui. Ons kan nie teruggaan na waar ons was nie, het Elgar gesê.

Daar is ’n lang pad wat voorlê, daar is geen skakelaar nie. Maar kom ons begin.

Die verwagtinge is dus groot, maar Hudson weet alles gaan nie oornag verander nie.

“Daar is baie werk wat gedoen moet word en ek is bewus daarvan,” sê hy.

“Ek sien uit na die uitkoms – dat alles waarvoor krieket staan en die impak wat dit op die samelewing en op nasiebou het, na die voorgrond kan tree. Ek sal probeer om ’n verskil te maak waar ek kan.”

Hy glo die samestelling van die nuwe raad, wat uit ’n meerderheid onafhanklike raadslede bestaan, is ’n “goeie eerste tree in die regte rigting”.

“Die tema is: Wat is goed vir krieket? Wat moet ons doen om krieket weer voorop te stel? As dít gebeur, sal die spelers weer die volle ondersteuning van die administrateurs kry.

“Die tussentydse raad het ’n goeie grondslag gelê. Die raad is op die regte manier saamgestel, volgens die Nicholson-aanbevelings, en dit is goed vir krieket as ’n begin.

“Daar is ’n lang pad wat voorlê, daar is geen skakelaar nie. Maar kom ons begin.”

Meer oor:  Krieket  |  Ksa  |  Proteas  |  Andrew Hudson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.