Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Anrich, Proteas se ‘Proper Dutchman’

“Hy is ’n proper Dutchman,” het Charl Langeveldt Vrydag regstreeks op SuperSport oor Anrich Nortjé gesê, tot die groot vermaak van die aanbieders Mark Nicholas en Kevin Pietersen.

Nortjé het Saterdag op dag drie van die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth daardie hardnekkigheid gewys waarna Langeveldt, die Proteas se boulafrigter, met sy aanmerking verwys het. Nortjé is Vrydagaand as naguiltjie ingestuur en is Saterdagmiddag kort voor vyfuur uit nadat hy 136 balle vir sy 18 lopies trotseer het.

Anrich Nortjé moes koes vir ’n paar blitsige kortballe van die Engelse sneller Mark Wood. Foto: Getty Images

“Ek het gewag vir daardie vraag,” het Nortjé met ’n groot glimlag gesê toe hy oor Langeveldt se opmerking gepols is.

“Ek word dit al lank genoem, dit was net die eerste keer dat dit op televisie gebeur het. Die karaktertrekke waarna dit verwys, ek sien dit as ’n kompliment, want dit gaan daaroor dat jy hard baklei, aggressief is en met ’n baie groot hart speel.

“Dit is iets waarop ek trots is. Wanneer die toestande taai raak, wanneer dit 40 grade is, probeer ek om die ou te wees wat hard instorm om te boul en probeer om dinge met die bal in die hand te laat gebeur.

“Nie regtig met die kolf nie, maar as ek die geleentheid kry, sal ek ’n paar houe vat vir die span. Ek dink dit is waarna dit verwys.”

Nortjé moes vroeg op dié reënverkorte dag, wat geëindig het met die Proteas op 208/6, 291 lopies agter Engeland se eerstebeurttelling van 499/9, ’n sarsie kort aflewerings van die blitsbouler Mark Wood oorleef. Hy moes ook ’n plan maak met die draaier Dom Bess (5/51). Hy het uiteindelik sy paaltjie aan Ben Stokes afgestaan.

“Ek het probeer om so lank as moontlik in die middel te bly en om soveel as moontlik aflewerings te trotseer. Ek geniet dit werklik om te kolf en dit is iets waaraan ek hard werk.”

Nortjé sê dit is onregverdig om sy vertoning as ’n stok te gebruik om die kolwers mee by te kom wat nie soveel aflewerings soos hy kon trotseer nie.

“Daar is ’n groter uitdaging vir hulle, wat ook lopies moet probeer slaan. Ek sal byvoorbeeld ’n maklike halfvol aflewering ook met rus laat.”

Ek weet nie, ek is nie deel van die kolfvergaderings nie.
Anrich Nortjé

Maar waarom het hulle so met Bess gesukkel, wat was die plan?

“Ek weet nie, ek is nie deel van die kolfvergaderings nie.”

Hy sê die skof wat hy van Wood moes trotseer, gee hom selfvertroue. Hy weet nou hy kan opslagballe teen 150 km/h neutraliseer.

“Ek het nog nooit teen so iets te staan gekom nie. Ek is bly ek kon dit trotseer, maar dit is glad nie lekker nie.”

Hy glo ook die Proteas kan steeds die toets red.

Quinton de Kock (63*) en Vernon Philander (27*) kolf Sondagoggend voort. Daar word reën vir ’n groot gedeelte van Sondag voorspel, terwyl die weer Maandag ook tyd uit die wedstryd kan vat.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Charl Langeveldt  |  Anrich Nortjé  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.