Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Anrich nie in sak en as ná taai vuurdoop

Nie eens 156.3 bloedige warm boulbeurte in die veld kon Anrich Nortjé se toetsbuiging vir hom bederf nie.

Nortjé het sy buiging in die Proteas se tweede toets teen Indië verlede week in Pune gemaak. Sake het nie volgens plan verloop nie – hy het met syfers van 0/100 in 25 beurte in Indië se eerste en enigste kolfbeurt geëindig én die Proteas het met ’n allemintige beurt en 137 lopies verloor.

Dit was nietemin ’n spesiale ervaring vir die 25-jarige sneller.

Anrich Nortjé stuur een van sy kartetse in die tweede toets teen Indië in Pune af. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n wonderlike ervaring, wat ek werklik geniet het. Die uitslag is nie goed nie, maar selfs ná 140 beurte in die veld het ek dit nog geniet,” sê Nortjé.

“Hopelik kan ons dinge omkeer, maar ek het dit steeds geniet.”

Nortjé het met tye sy verstommende vaart tentoongestel en teen rondom 150 km/h geboul. Die akkuraatheid was egter nie altyd daar nie. Die Indiese kolwers het hom daarvoor gestraf. Hy sien dit as een van talle lesse wat hy geleer het.

“Die groot ding vir ons as boulers is om bestendig meer akkuraat te wees,” sê Nortjé.

“Ek probeer om soveel as moontlik te leer, ook oor hoe om in die subkontinent te boul. Dit is goed vir my.”

Hopelik kan ons dinge omkeer, maar ek het dit steeds geniet.

Hy is al byna twee maande in Indië, aangesien hy voor die toetsreeks ook saam met die SA A-span daar getoer het.

“Ek geniet ook die Indiese kultuur. Die lewenstyl hier is baie anders as in Suid-Afrika.

“Daar is baie respek vir krieket in hierdie land, so dit is lekker om rond te toer en te reis en te sien hoe dinge hier werk.”

Hoewel die reeks reeds verlore is, sal die Proteas steeds gemotiveerd opdaag vir die derde en laaste toets, wat Saterdag in Ranchi begin.

“Die ouens is gereed en opgewonde vir die derde toets. Ons het onlangs besprekings gehad oor wat ons moet doen en almal weet wat in die derde toets van hulle verwag word.

“Ons wil nie verder kyk as die volgende toets nie. Daar is steeds 40 punte in die Toetskampioenskap vir ons op die spel.

Dit gaan nie oor ’n reeksnederlaag nie, dit gaan daaroor om die punte vir die Kampioenskap te kry. Daarom is die ouens baie gemotiveerd.”

Meer oor:  Indië  |  Toetskrieket  |  Anrich Nortjé  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Kriekettoetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.