Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Anrich van 7de hemel na ’n kop vol vrae

Die een oomblik het Anrich Nortje nog gevoel of hy op die wolke loop, die volgende oomblik word hy hard terug aarde toe geruk en besef hy dat hy nog baie het om te leer.

Anrich Nortje jubel Woensdag oor een van sy drie paaltjies teen Sri Lanka. Hy het soms lekker aggressief in die vierde eendagwedstryd in die Baai geboul, maar hom later in ’n ewe aggressiewe kolwer in die gedaante van Isuru Udana vasgeloop. Foto: Gallo Images

Dis van die emosies wat deur die 25-jarige snelbouler van Uitenhage gewoed het in Woensdag se vierde eendagwedstryd teen Sri Lanka by St. Georgepark in Port Elizabeth. Nortje het 3/57 in agt boulbeurte geneem om sy span te help om met ses paaltjies te wen.

Sy syfers kon egter soveel beter gelyk het as dit nie was dat Isuru Udana hom in sy laaste twee boulbeurte genadeloos gestraf het nie. Nortje se syfers was ná ses boulbeurte 3/19 en hy is vir eers aan die aanval onttrek.

Met sy terugkeer later het Udana summier onder meer drie sesse agtereenvolgens van hom af gemoker.

“Ek is natuurlik teleurgesteld omdat die laaste twee boulbeurte nie volgens plan verloop het nie, maar ek aanvaar dat ek daaruit moet leer,” sê Nortje.

“Miskien het ek te reguit geboul, maar dit het duidelik nie gewerk nie. Dit kon op enige vlak gebeur het, hoewel dit so is dat daar minder ruimte vir foute op internasionale vlak is.”

Nortje sê hy het voor daardie laaste twee boulbeurte wonderlik gevoel en breëbors geloop omdat hy tot die span se sukses kon bydra.

“Nadat Isuru daardie drie sesse geslaan het, het ek maar net probeer om my kop skoon te maak en steeds 100% in my eie vermoëns te glo,” sê hy.

Nortje het nou in drie eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel. Al drie was teen Sri Lanka.

In sy eerste een in Johannesburg het hy 1/33 geneem, in sy tweede in Centurion 2/25 en in sy derde in die Baai 3/57.

“Hopelik kan ek van hier af net daarop voortbou,” sê Nortje. “Ek vat dinge maar een wedstryd op ’n keer en probeer om nie aan goed soos die Wêreldbekertoernooi te dink nie. Ek sal net my beste probeer lewer en dan is dit die keurders se werk om die span te kies.”

Nortje het ook ’n lansie vir Quinton de Kock, wat tans skitterend op dreef is, gebreek.

De Kock het in die vierde eendagwedstryd sy vyfde agtereenvolgende 50-tal in ’n internasionale eendagwedstryd gekry toe hy 51 lopies aangeteken het.

Dis ’n rekord wat hy reeds saam met Jonty Rhodes hou.

“Dis lekker om te weet dat daar ouens soos Quinton is wat lopies gaan kry,” sê Nortje.

“As ’n bouler voel jy dat jy kan ontspan, want jy het jou deel met die bal gedoen en nou is dit Quinton-hulle se beurt. Dis ook nie net Quinton nie. Daar is ’n paar ander kolwers wat tans goed op dreef is. Van hulle kry dalk nog nie die tellings wat hulle verdien nie, maar ek dink dit sal kom.”

Meer oor:  Anrich Nortje  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.