Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Anrich weer enigste ligpunt vir Proteas

Dag 2, vierde toets, Johannesburg:

Engeland, 1ste beurt, 400

Suid-Afrika, 1ste beurt, 88/6

In Temba we trust,” lui een van die plakkate wat die ondersteunersgroep die Gwijo Squad Saterdagmiddag op die hoofpaviljoen by die Wanderers tussendeur hul singery omhoog gehou het.

Anrich Nortjé vier sy vyftal. Foto: Reuters

Dis net ’n jammerte dat Bavuma middel toe moes stap op 60/4, ná nóg ’n ineenstorting van die toporde. Dis ook jammer Bavuma se boulers, in die besonder Dane Paterson en Beuran Hendricks, het vir hom en die res van die kolwers geen realistiese kans gegee om dié toets te wen nie.

Die afgrond wat al hoe nader kom, is ook onregverdig teenoor die Proper Dutchman Anrich Nortjé. Hy verdien ’n oorwinning vir sy boulwerk wat 5/110 in 24 beurte opgelewer het.

Nadat Joe Root (59) en Ollie Pope (56) die eerste uur se spel oorheers het, het Nortjé Suid-Afrika in die toets ingedwing met ’n skof blitskartetse wat drie paaltjies voor middagete opgelewer het.

Sy heldedade is deur deurmekaar boulwerk teen die stert ongedaan gemaak. Nou sit ’n reeksnederlaag net oor die bult soos die doodsengel vir Faf du Plessis se troepe en wag, want slegs ’n oorwinning sal genoeg wees om die reeks gelykop te laat eindig.

Dit het al gebeur dat ’n span ’n toets kon wen nadat sy teenstander 400 of meer in die eerste beurt aangeteken het. Al 47 keer, om presies te wees. Ironies genoeg het Engeland in die laaste vier jaar drie toetse met meer as ’n beurt verloor nadat hy 400 of meer in sy eerste beurt aangeteken het.

Maar as dié Protea-kolflys, Bavuma ofte not, ’n eerstebeurttelling kry wat ’n onwaarskynlike oorwinning kan verseker, word Schalk Bezuidenhout die volgende president. Trouens, nadat ses paaltjies reeds voor uitskeityd geval het, is dit selfs onwaarskynlik dat die opvolgbeurt afgeweer gaan word.

As Paterson, Hendricks en bedenklike kapteinskap deur Du Plessis nie die Engelse nr. 10, Mark Wood (35*), en nr. 11, Stuart Broad (43), toegelaat het om parkie-krieket te speel nie, het dinge dalk anders gelyk.

Tel Chris Woakes (32), die nr. 9, se bydra by en die laaste drie kolwers het 110 lopies tot die totaal bygedra.

Terwyl die Gwijo Squad die Wanderers met hul dreunsang in ’n amfiteater omskep het, het die Proteas gehensop, terwyl Wood en Broad hul lyf Chris Gayle gehou het.

Sewe en soms selfs agt veldwerkers is op die grens geplaas, met slegs een glip in plek.

Na hierdie veld toe het Paterson en Hendricks aflewerings in die helfte van die blad geplant. Teen hul middelmatige spoed het die bal net hoog genoeg gewip dat Wood en Broad kon wegtree en met aggressie wild en wakker kon swaai.

Stuart Broad het lekker met die kolf baljaar. Foto: Getty Images

Wood en Broad het tussen hulle sewe sesse geslaan op apd na die grootste vennootskap (82) om die tiende paaltjie nóg op die Wanderers.

Paterson (2/86) en Hendricks (1/111) is albei nog onervare op die toetsverhoog en Du Plessis moet die skuld dra vir swak planne. Selfs Schalk Bezuidenhout sal weet teen stertkolwers boul jy vol, vinnig en bestendig reguit na die paaltjies.

Dit was juis Nortjé se vermoë om bestendig ’n goeie lyn net buite die wegpen teen blitsige spoed te handhaaf, wat hom gehelp het om sy eerste toetsvyftal in te palm.

Hy is een van die min ligpunte uit ’n donker reeks wat op ’n gitswart klimaks afstuur. ’n Mens mag seker ook droom oor ’n toekomstige sneltrio van Nortjé, Rabada en Lungi Ngidi. . .

Maar voor dan is daar ’n toets op die Wanderers wat moet klaar.

Die vertroue wat die Gwijo Squad in Bavuma gehad het, is toe ook nie beloon nie. Hy is ná 28 balle in die middel vir ses lopies uit. Quinton de Kock (32*) was weer die enigste skerp kolwer.

Saterdag kon die 14 236 toeskouers wat opgeruk het minstens Nortjé se durf en die Gwijo Squad se gees waardeer. Ook ’n stoute groepie se kreet van “Ed Sheeran, Ed Sheeran, Ed Sheeran!” terwyl Ben Stokes geboul het. Hulle kon juig toe ’n vroulike ondersteuner geklee in ’n Suid-Afrikaanse vlag laat in die dag op die veld genael en spel onderbreek het.

Maar hulle moes ook ly onder ’n Protea-krieketspan wat moeg, moedeloos en erg verward voorkom.

Die einde van die reeks kruip genadiglik nader. Maar voor dan verdien Protea-fêns darem iets wat hul vertroue in die span sal herstel.

Meer oor:  Anrich Nortjé  |  Temba Bavuma  |  Johannesburg  |  Suid-Afrika  |  Toetsreeks  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.