Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Archer se kartetse laat Aussies sweet

Die Engelse snelbouler Jofra Archer het Saterdagmiddag op Lord’s met ’n enkele aflewering straks die gang van vanjaar se reeks om die As verander.

Hoewel die tweede kriekettoets tussen Engeland en Australië Sondag onbeslis geëindig het, gaan Archer se woeste boulskofte beslis ’n invloed op die derde toets hê.

Jofra Archer vier een van sy paaltjies. Foto: Getty Images

Archer (3/32), in sy debuuttoets vir Engeland, het Australië se ankerman, Steve Smith, Saterdag met een van sy kartetse teen die kop getref en die gewese Aussie-kaptein se deelname aan die derde toets is nou in die gedrang.

Smith was op 78* toe hy die veld verlaat vir ’n harsingskuddingtoets. Hy het die toets geslaag en het later voortgekolf.

Hy het Sondagoggend met ’n hoofpyn gesukkel en was ook effe lighoofdig.

Australië het gebruik gemaak van die nuwe harsingskuddingreël waardeur Smith vervang is deur die voormalige Suid-Afrikaner Marnus Labuschagne.

As ’n speler voorheen deur ’n twaalfde man vervang is, kon hy slegs veldwerk doen.

Die nuwe reël bepaal dat wanneer ’n speler met harsingskudding sukkel, kan sy plaasvervanger boul, kolf en veldwerk doen.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Smith binne ’n week van harsingskudding sal kan herstel, veral omdat die derde toets reeds Donderdag op Headingley in Leeds begin.

Hoewel die spanning Sondag op Lord’s steeds baie hoog was, was daar nie genoeg tyd oor nadat meer as vyf sessies weens reën verloor is nie.

Marnus Labuschagne word teen die kopskerm getref deur Jofra Archer. Foto: Getty Images

Engeland se kolwers het die gunstige kolftoestande op die laaste dag goed benut. Die Engelse het hul tweede beurt op 258/5 gesluit verklaar en die Aussies die teiken van 267 in 48 boulbeurte vir ’n oorwinning gestel.

Ben Stokes het met sy 115* (165 balle; 15x4, 3x6) die Engelse aanslag gelei en sy sewende toetshonderdtal aangeteken.

Archer het in die Aussies se tweede beurt weer behoorlik laat bontstaan. Hy het van David Warner en Usman Khawaja ontslae geraak, voordat een van sy blitsballe ook vir Labuschagne teen die kopskerm getref het.

Dit was slegs Labuschagne se tweede bal van sy kolfbeurt.

Hy het egter opgespring asof daar niks fout was nie en het baie moed aan die dag gelê. Hy het ook baie vernuf in sy beurt van 59 getoon.

Die Aussies het gesweet teen die einde, maar het 154/6 met die uitskeityd bereik.

Telkaart

Meer oor:  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië  |  Lord's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.