Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Arendse kap ‘onbevoegde’ KSA-raad

Alles by Krieket Suid-Afrika (KSA) verloop nie nou skielik klopdisselboom nadat Thabang Moroe voorlopig geskors is nie, maan adv. Norman Arendse, die voormalige president van KSA, in ’n tweede ope brief.

Norman Arendse, ’n voormalige president van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Hy meen KSA bloei geld en dat die “hopeloos onbevoegde” raad, onder leiding van die president, Chris Nenzani, en adjunkpresident, Beresford Williams, hiervoor verantwoordelik gehou moet word.

Arendse het in Desember ’n ope brief geskryf waarin hy gevra het dat Moroe deur KSA se raad verantwoordbaar gehou word vir dít wat by die beheerliggaam skeefgeloop het.

Moroe is toe wel vir drie maande met sy volle salaris geskors, maar KSA se geldkoffers word steeds knoue toegedien, het Arendse Woensdag geskryf.

Hy beweer die onlangse ooreenkoms wat tussen KSA en die spelersvereniging, Saca, bereik is, is bloot die herstel van die status quo. Saca het sy hofsaak teen KSA teruggetrek nadat die beheerliggaam aangekondig het hy gaan sy besluit terugtrek dat plaaslike krieket geherstruktureer moet word.

Arendse reken KSA sal Saca se hofkoste moet betaal, wat “in die omgewing van meer as R750 000” sal wees.

Volgens hom sou KSA ook “ongeveer R1 miljoen” bestee het vir ’n ouditeursfirma om ’n verslag oor die moontlike herstrukturering op te stel.

Hy meen dít en die bloedneus wat KSA by die Westelike Provinsie Krieketvereniging in hul arbitrasie gekry het, sou die beheerliggaam meer as R2,5 miljoen uit die sak gejaag het.

Dan is Moroe, Naasei Appiah, Corrie van Zyl en Clive Eksteen boonop almal met hul salarisse geskors.

Ondanks wat duidelik die fout in ons krieket was, naamlik om ’n onbevoegde en ondergekwalifiseerde uitvoerende hoof aan te stel, en ’n hopeloos onbevoegde raad wat geen aanspreeklikheid aanvaar nie, is daar ’n forensiese oudit aangevra.
Norman Arendse

Dít is alles die skuld van die “magtelose” raad, wat sedert Desember 2019 “pateties mank rondploeter en tussentydse aanstellings maak en weier om verantwoordelikheid te aanvaar en die tuig neer te lê.”

Arendse meen ook die Engelse toergeselskap is oneerbiedig behandel. “Dit is baie vernederend.” Hy brei nie hierop uit nie, maar betreur dit wel dat die raad “skaars sigbaar” was by die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Engeland.

Arendse sê die raad is wanfunksioneel en die ongevulde poste van die vier raadslede wat in Desember bedank het, beteken dat statutêre komitees nie hul werk kan verrig nie.

“(Die raad) lyk of hy desperaat hoop die tussentydse aanstellings (soos Jacques Faul as uitvoerende hoof) kan ons krieket – en hul bas – red.

“Ondanks wat duidelik die fout in ons krieket was, naamlik om ’n onbevoegde en ondergekwalifiseerde uitvoerende hoof aan te stel, en ’n hopeloos onbevoegde raad wat geen aanspreeklikheid aanvaar nie, is daar ’n forensiese oudit aangevra.

“Weer eens teen groot koste, waarskynlik meer as R1 miljoen. (Die forensiese oudit) se werk sal klaar wees wanneer die president (se termyn) uiteindelik in Augustus/September eindig.

“Wat gebeur dan, of sal die president weer sy termyn laat verleng? Of neem hy en die ewe skuldige adjunkpresident verantwoordelikheid? Of galop hulle eenvoudig in die sonsondergang in soos Bud Spencer en Terence Hill aan die einde van ’n spaghetti Western en los krieket in hierdie gemors?”

Meer oor:  Norman Arendse  |  Chris Nenzani  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika  |  Saca  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.