Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Arendse wel tot KSA-raad verkies

Ondanks teenkanting van Krieket Suid-Afrika (KSA) se lederaad, is adv. Norman Arendse Woensdagaand as die agtste onafhanklike direkteur in die nuwe raad van die beheerliggaam aangestel.

Arendse, wat tussen 2007 en 2008 die beheerliggaam se president was en later ook vir ses jaar as die hoof- onafhanklike direkteur gedien het, is Saterdag op KSA se jaarvergadering as een van die nuwe onafhanklike direkteure aangekondig, maar die lederaad het daarteen kapsie gemaak.

Die onafhanklike raadslede is deur ’n onafhanklike benoemingspaneel aangestel en die lederaad – wat bestaan uit die 14 uniepresidente – het inderwaarheid geen mag gehad om dié aanstellings uit te daag nie.

Mohamed Seedat van die benoemingspaneel het nietemin Saterdag gesê die paneel sal Arendse se aanstelling heroorweeg, voordat hy toe wel Woensdagaand op ’n opvolgvergadering aangestel is.

Adv. Norman Arendse is terug in Krieket Suid-Afrika se raad. Foto: Gallo Images

Rihan Richards, die president van die lederaad, het Saterdag verduidelik dat die teenkanting daaruit spruit dat Arendse die hoof- onafhanklike direkteur was toe Thabang Moroe as uitvoerende hoof aangestel is en ten tyde van die T20 Global League-fiasko.

“En tweedens oor die uitlatings wat hy oor KSA gemaak het toe hy nie in die raad was nie,” het Richards gesê.

Arendse was erg krities oor die bestuursprobleme wat die beheerliggaam sedert einde 2019 ervaar het onder Moroe as uitvoerende hoof. Moroe is sedertdien afgedank.

Arendse het Donderdag aan Netwerk24 gesê dit was vir hom ’n irritasie dat die proses Saterdag vertraag is.

“Dit was frustrerend, want ek weet ek is reguit, ek het integriteit en ek het niks gedoen om daardie eienskappe te ondermyn nie,” sê Arendse.

Ná die lederaad se beswaar het Arendse nog onderhoude met die benoemingspaneel gehad.

“Ek het gesê ek kan die lederaad se posisie verstaan, want hulle sien my as deel van die veranderinge wat nou teweeg gebring word. Ek staan wel by die standpunt wat ek (in 2019) in ’n brief geuiter het.

“Maar ek is tevrede om deel te wees van die nuwe raad, as dit duidelik blyk dat ek deur ’n benoemingspaneel aangestel is. Daar was selfs aantygings dat ek deur die (sport)minister (Nathi Mthethwa) op die raad geplaas is, maar dit is absurd.”

Arendse sê hy is opgewonde oor die “nuwe era” in Suid-Afrikaanse krieket. Hy glo die raad het die vermoë om krieket weer op koers te kry, maar dit is belangrik dat die raad in gelid saamwerk en nie fokus op die verskille tussen onafhanklike en nie-onafhanklike raadslede nie.

Die volgende stap is dat die raad ’n voorsitter moet verkies. Die voorsitter sal uit die geledere van die onafhanklike raadslede kom.

Sal Arendse gewillig wees om as die voorsitter te dien?

“Kom ek stel dit so, ek glo ek het die nodige institusionele kennis van krieketadministrasie,” sê hy.

“Dit is belangrik dat ons ’n goeie verhouding met die lederaad vestig. Ek ken vir Rihaan Richards en Donovan May (adjunkpresident van die lederaad) en persoonlik het ek geen probleem met hulle nie. So ek glo ons kan dit doen.”

Die voorsitter sal by die raad se eerste amptelike vergadering verkies word. Daar is nog nie ’n datum vir dié vergadering nie.

Die lederaad het ook Woensdagaand onbestrede vir Lawson Naidoo as die voorsitter van die oudit-en-risiko-komitee verkies. Dr. Simo Lushaba, adv. Steven Budlender en Mark Rayner is die ander lede van dié komitee. Hulle is onafhanklike raadslede.

Naidoo is die uitvoerende sekretaris van die raad vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet.

Saca steun nuwe raad

Die SA Krieketspelersvereniging (Saca) het Donderdag in ’n verklaring die aanstelling van die nuwe KSA-raad verwelkom.

“Die voorafgaande 24 maande was ’n onstuimige tydperk vir Suid-Afrikaanse krieket,” sê Andrew Breetzke, Saca se uitvoerende hoof.

“Ons spel het enorme skade gely en die aanstelling van die nuwe raad was op sigself ’n uitdagende en komplekse proses. Saca sien uit na ’n konstruktiewe verhouding met die nuwe raad.”

Saca sonder die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende hoof, finansiële volhoubaarheid en transformasie uit as kernaspekte waarop die nuwe raad moet fokus.

Pholetsi Moseki, KSA se finansiële hoof, neem die afgelope sewe maande as uitvoerende hoof waar. Sedert Moroe se skorsing in Desember 2019 het die beheerliggaam nog nie ’n voltydse uitvoerende hoof gehad nie.

• KSA se nuwe raad van 15 direkteure:

Onafhanklike raadslede: Adv. Norman Arendse, adv. Steven Budlender, Andrew Hudson, dr. Simo Lushaba, Lawson Naidoo, Andisa Ntsubane, Mark Rayner, Ntambi Ravele. Nie-onafhanklike raadslede (uit die geledere van die lederaad): Daniel Govender (KZN), John Mogodi (Limpopo), Craig Nel (Mpumalanga), Simphiwe Ndzundzu (Grens), Tebogo Siko (Noordelikes). Uitvoerende beamptes: Pholetsi Moseki (waarnemende uitvoerende hoof), Christelle Janse van Rensburg (waarnemende finansiële hoof).

 


Meer oor:  Fundudzi-Forensiese Verslag  |  Norman Arendse  |  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Ikr  |  Black Lives Matter  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Saskok  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.