Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
As dit pap reën by KSA word daar geskep ...
Die tussentydse raad het Vrydag sy verslag aan minister Nathi Mthethwa oorhandig. Foto: Getty Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) se regskoste vir sy voortslepende bestuurskrisis beloop reeds meer as R30 miljoen en met nóg hofsake hangende gaan dit nie daar eindig nie.

Die regskoste, wat R16 miljoen van die vorige raad insluit, bied ’n skokkende blik op die bestuursake van die beheerliggaam, met die binnegevegte in KSA wat omvattend beskryf word in die tussentydse raad se verslag aan die minister van sport.

Die tussentydse raad het KSA se verhouding met sy vorige regsfirmas beëindig en moes nagenoeg R7 miljoen vir regskoste aan die firma Dingley Marshall Lewin opdok. Om regter Chris Nicholson se aanbevelings deur te voer, het die tussentydse raad ’n verdere R1,375 miljoen gekos.

Nathi Mthethwa, minister van sport, het die tussentydse raad verlede jaar aangestel om die voortslepende bestuurskrisis by KSA op te los. Die tussentydse raad sê in die slotsom van sy verslag van 111 bladsye hy het ’n “organisasie in vryval geërf”.

“Benewens die bedanking van die ganse raad en ’n top- uitvoerende hoof (waarskynlik ’n verwysing na Jacques Faul), met ander senior personeellede wat geskors is, is roetinewerk teen buitensporige onkoste en met twyfelagtige voordele uitgekontrakteer.

“Die inkomste was selfs voor Covid-19 besig om te krimp en gebrekkige kontrakte het tot KSA se laste bygedra,” skryf die tussentydse raad in die verslag.

“Dit alles is vervat in ’n gedetailleerde forensiese verslag wat opsigself omstrede geraak het omdat KSA (voor die tussentydse raad se termyn) teen die bekendmaking daarvan vasgeskop het.

R2.6 m. - die bedrag wat die vorige raad tussen September 2019 en Oktober 2020 in direkteursgeld betaal is.

“Die tussentydse raad het drie sleuteltake gehad: Om die agteruitgang hok te slaan, ’n begrip te kry vir die uitvoerende bestuurstruktuur en ’n nuwe grondwet met sterk bestuursbeginsels te vestig. Dit is bemoeilik deur sekere elemente van ’n organisasiekultuur wat bestuurshervorming teengestaan het.”

Die meeste van die regskoste is deur die vorige raad en die lederaad aangegaan en die verslag verwys na nagenoeg R5,291 miljoen wat aan personeel se “arbeidsaangeleenthede” bestee is.

Die tussentydse raad moes ’n verdere R5,869 miljoen op arbeidsregkwessies bestee.

Die vorige raad het nagenoeg R4,395 miljoen aan Fundudzi Forensic Services vir die forensiese verslag betaal asook R2,18 miljoen aan Bowmans. Die tussentydse raad moes ’n verdere R1,799 miljoen aan die Fundudzi-verslag bestee.

Die besluit om in 2019 by die Westelike Provinsie Krieketvereniging in te gryp, het KSA R1,584 miljoen gekos nadat die WP ’n arbitrasiesaak gewen het.

Die vorige raad het ’n verdere R1,828 miljoen se regskoste aangegaan in ’n stryd met die minister van sport en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok).

Amper R4 miljoen is uitbetaal weens dispute met werknemers.

Dit tussentydse raad het voorts besluit om sy direkteursgelde tot R180 000 per persoon te beperk.

Oudregter Zac Yacoob het nie sy betaling aanvaar nie, terwyl die voorsitter, dr. Stavros Nicolau, gevra het dat sy betaling gebruik word vir die skoolfondse van minderbevoorregte skoolkinders.

Dr. Eugenia Kula-Ameyaw

Die tussentydse raad het in sewe maande 95 raadsvergaderings belê en in totaal 155 vergaderings gehou, wat 28 dae se verhore insluit.

Dit is in sterk teenstelling met die vorige raad, wat tussen September 2019 en Oktober 2020 91 vergaderings gehou het. Dit het ingesluit vergaderings van subkomitees, verhore en raadsvergaderings.

Die raadslede is altesaam R2,67 miljoen in direkteursgelde betaal, met die omstrede dr. Eugenia Kula-Ameyaw wat die meeste betaal is – meer as R287 000.

Daarvan was R202 000 “vergaderingsgeld”.

Kula-Ameyaw was in die nuus toe sy in ’n reeks omstrede Twitter-uitsprake die borg Momentum gekritiseer het toe hy sy borgskap van KSA onttrek het.

KSA het ook ’n verlies van tussen R250 miljoen en R280 miljoen vir die 2020-’21-boekjaar voorspel.

Meer oor:  Regskoste  |  Ksa  |  Tussentydse Raad  |  Verslag  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.