Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘As ’n ou met 150 toetse praat, lúister jy’

Vir lank was die betrokkenheid van voormalige Proteas by die nasionale krieketspan en by Krieket Suid-Afrika (KSA) so skaars soos toetsseges in Indië.

Faf du Plessis, die voormalige Protea-kaptein, het die tekort aan legendariese oud-Proteas in die nasionale stelsel so onlangs soos verlede jaar November bekla. Maar toe verander alles in Desember.

Faf du Plessis en Jacques Kallis diep in gesprek gewikkel. Foto: Getty Images

Ná skuiwe in die raadsale loop dit skielik oor van die oud-Proteas wat in Suid-Afrikaanse krieket betrokke is.

Mark Boucher is die Protea-hoofafrigter, Graeme Smith die direkteur van krieket, Charl Langeveldt en Justin Ontong voltydse hulpafrigters. Jacques Kallis het dié seisoen sporadies as kolfkonsultant gehelp en Paul Harris as draaiboulkonsultant.

Saam het dié oudspelers 475 toetse se ervaring. Met die Proteas se toer na Indië in Oktober het die ganse Protea-afrigtingspan en KSA-topbestuur twee toetse se ervaring gehad. Dit was te danke aan Ontong.

Bouch, Kallis en Smith is ouens wat daar is om ons krieket te verbeter
AB de Villiers

Boucher het vandeesweek gesê hoe waardevol al die ervaring in die kleedkamer is en die hoop uitgespreek dat Harris en Kallis in die toekoms verder ’n rol sal speel.

“Jacques en Paul het baie goeie werk verrig. Ek is nie seker wat gaan vorentoe gebeur nie, maar dit sal dom wees om twee sulke krieketbreine te verloor,” sê Boucher.

Hy sê Langeveldt verrig ’n uitstekende taak met die boulers en dat Ontong meer as net ’n veldwerkafrigter is.

“Onters help ook met die kolfwerk. Hy het vir Suid-Afrika gespeel. Ons sal dom wees as ons nie al sy vaardighede benut nie,” sê hy.

Die voormalige Protea-kaptein AB de Villiers het vandeesweek aan Rapport gesê hoe belangrik dit is om oudspelers betrokke te kry.

“Bouch, Kallis en Smith is ouens wat daar is om ons krieket te verbeter,” sê De Villiers.

Paul Harris

“Hulle is drie manne wat hul pad gestap het in Suid-Afrikaanse krieket. Die dinge wat hulle op die veld gedoen het, is nie 10% van wat hulle vir ons land se krieket beteken het nie,” sê De Villiers.

“As ek myself in ’n jong man van 19 of 20 jaar oud se skoene sit wat by die Proteas aansluit: Watter tipe afrigter gaan ’n impak op my hê? Ek dink nie dis net vir my nie, dis enige tipe persoonlikheid.

“Dit maak ’n verskil as ’n ou wat 150 toetse vir ons land gespeel het met jou praat.

“Bouch kan vir ’n jong ou, ná sy tweede jaar van internasionale krieket, verduidelik die bad patch waardeur hy nou gaan, is niks nie, want hy het dit self ook al oorgekom én oorleef. Dan help hy daardie outjie om weer op te staan.

“Geen handboek gaan daardie outjie leer hoe om deur sy diepste en donkerste tye te kom nie. Iemand soos Bouch moet dit doen.”

Hy sê dis belangrik dat dit Suid-Afrikaners is, en nie enige voormalige inter­nasionale spelers nie. Ottis Gibson, oud-snelbouler van die Windies, het die Proteas verlede jaar by die Wêreldbeker gebrei.

Dis lekker om te hoor Bouchie wil steeds hê ons moet betrokke wees, dit was lekker om hand by te sit.
Paul Harris

“Jy kort iemand wat sy diens gedoen het en nou vir my die beste maniere wil wys hoe om dit ook te doen,” sê De Villiers.

Harris, wat 37 toetse as draaibalbouler vir Suid-Afrika gespeel het, is nommerpas in dié rol.

“Dis lekker om te hoor Bouchie wil steeds hê ons moet betrokke wees, dit was lekker om hand by te sit,” het Harris aan Rapport gesê.

“Van die terugvoering wat ek gekry het, het gewys die ouens het dit geniet om my daar te hê. As hulle voel ek voeg waarde by, sal ek graag betrokke wil bly.”

Harris en Kallis is albei as konsultante gebruik en kan weer as konsultante betrek word.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Mark Boucher  |  Ab De Villiers  |  Jacques Kallis  |  Faf Du Plessis  |  Proteas  |  Krieket  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.