Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
As-notas vir Enoch voor Engelse toer

Hulle kom met ’n blitsvinnige jong Turk, ’n rooigevaar van ’n veelsydige speler en ’n plofbare laer-middelorde.

Die spoedvraat Jofra Archer gaan baljaar op die vinnige blaaie in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Maar Engeland se krieketspan toer ook na Suid-Afrika met ’n sukkelende toporde, ’n kaptein wie se aura begin kwyn en ’n ouerwordende boulaanval.

In Engeland het die son Sondag oplaas oor die krieketsomer der alle krieketsomers gesak. Engeland het ’n oorwinning in die laaste toets in die reeks om die As oor sy ou vyand Australië behaal om die reekslouere met 2-2 te deel.

Australië behou die As, maar kan homself so ietwat ongelukkig ag om nie sy eerste toetsreeks sedert 2001 op Engelse bodem te wen nie. Veral twee spelers – Ben Stokes en Jofra Archer – en miskien ’n derde, Stuart Broad, was al wat die Aussies van ’n reekssege weerhou het.

Dit is ook die eersgenoemde twee spelers wat die grootste gevaar vir Suid-Afrika inhou.

Ná ’n blaaskans van ’n maand, pak die Engelse krieketspan sy tasse vir Nieu-Seeland, waarna hulle na Suid-Afrika opruk.

Die eerste van vier toetse word van 26 Desember in Centurion beslis. Voor dan het Suid-Afrika die moeilike taak om Indië ín Indië te pak en die Proteas se aandag sal tans ten volle by Virat Kohli se span wees.

Maar daar is tog verskeie lesse wat Suid-Afrika oor Engeland se vertoning teen die Aussies kon leer.

Joe Root is nie meer so indrukwekkend met die kolf soos ’n paar jaar gelede nie. Foto: AP

Die eerste les is dat die blaaie onder geen omstandighede so giftig voorberei kan word soos wat die tendens onder Ottis Gibson was nie. Die rede hiervoor is dat Engeland in Archer oor ’n bouler beskik wat baie vinniger as enige Suid-Afrikaanse bouler kan boul.

Van die Protea-kolwers het Archer in die spanne se Wêreldbeker-wedstryd in Mei op die Oval trotseer, maar vir die meeste van die toetskolwers sal hy ’n totale nuutjie wees. ’n Vaardige bouler soos hy, wat die bal boonop teen 155 km/h kan afstuur, gaan altyd ’n gevaarlike kalant wees.

Die Proteas beskik nie oor ’n “Steve Smith” nie, maar hulle sal, soos dié Australiese kolfmaestro, Archer se kort aflewerings met respek moet benader.

Die Held van Headingley, Ben Stokes, spel gevaar vir die Proteas. Foto: Getty Images

Nadat Smith in die tweede toets op Lord’s deur Archer teen die kop getref is, en gevolglik die derde toets op Headingley misgeloop het, het hy bykans al Archer se opslagballe met rus gelaat en die 24-jarige sneller homself sodoende moeg laat boul.

Buiten Archer is Stokes, wat die reeks vir Engeland op wonderbaarlike wyse in Headingley met ’n onoorwonne honderdtal gered het, tans Engeland se gevaarlikste speler.

Die Proteas sou wel sien dat Stokes vroeg in sy beurt kwesbaar is.

Onder die ander boulers het Broad sy slag teen veral hotkloue soos David Warner, wat hy sewe keer uit tien beurte uitgekry het, gewys. Die Proteas se Dean Elgar sal dus op sy pasoppens moet wees.

Maar Broad (33) het nie meer baie spoed nie. As die Proteas hom uitsien, kan sy gô later uitraak.

Engeland val ook rond met sy toporde en in die As het hy verskillende kombinasies probeer. Rory Burns was die beste aanvangskolwer van die reeks met 390 lopies teen ’n gemiddeld van 39. Joe Denly het beter gevaar toe hy gevra is om die beurt te help anker as aanvangskolwer, maar dié duo is onervare en ongetoets in Suid-Afrikaanse toestande.

Die Engelse kaptein, Joe Root, het vier vyftigtalle geslaan, maar kon nie verby ’n 100 skuif nie. Hy lyk nie meer so imposant soos ’n paar jaar gelede nie.

As die Proteas die gevaarlike laer-middelordekolwers, Jonny Bairstow en Jos Buttler, vroeg in die middel kan kry, sal hulle hul slaankrag neutraliseer.

Engeland het die Wêreldbeker gewen. Hy het die reeks om die As gedeel. Maar as die Proteas hul huiswerk doen, sal hulle vol selfvertroue wees dat hulle die Pommies vir die eerste keer sedert 2012 in ’n toetsreeks kan klop.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Proteas  |  Reeks Om Die As  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.