Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ashwell veroordeel swak blad
Die Cape Cobras se afrigter, Ashwell Prince. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) kon homself baie geld gespaar het deur die draaierskamp in September eerder in Potchefstroom te hou as in Indië.

Al het hy dit so half tong in die kies gesê, was daar onderliggende venyn in hierdie woorde van Ashwell Prince, die Cape Cobras-krieketspan se afrigter.

Dié eertydse staatmaker-kolwer van die Suid-Afrikaanse toetsspan het uit Potchefstroom gesê die blad waarop sy span Woensdagoggend met net 11 lopies teen die Lions verloor het, was glad nie goed voorberei nie.

“Dit was baie duidelik dat die Lions besluit het omdat ons voorste draaier, Dane Piedt, nou in Indië sit, hulle van húl draaiers gebruik gaan maak om te wen en dus het hulle ’n blad probeer voorberei, wat gunstig was vir hul draaiers.

“Uiteindelik was dit ’n goeie wedstryd wat albei spanne kon wen, maar die blad was swak en kan nie regverdig word nie.

Uiteindelik was dit ’n goeie wedstryd wat albei spanne kon wen, maar die blad was swak en kan nie regverdig word nie.
Ashwell Prince

“Ek weet wat ek ook al sê, sal seker as suur druiwe gesien word, maar ek voel die blad was net eenvoudig onaanvaarbaar. Wat my baie teleurstel het, is dat KSA ook nie eens die moeite gedoen het om hul blad-inspekteur hierheen te stuur om te sien wat aangaan nie.

“Daar het 18 paaltjies op die eerste dag geval en nog 21 op die tweede. Dit sê genoeg en regverdig mos regtig dat iemand hier moes kom kyk het wat aangaan met die blad.

“Selfs in die middel van die blad was dinge nie goed nie en dít is hoekom (Malusi) Siboto dit in ons tweede beurt kom uitbuit. Hy was die een snelbouler wat darem paaltjies kon vat,” sê Prince.

Nie minder nie as 28 van die 40 paaltjies in net meer as twee dae, wat soos domino-blokkies gekantel het, is deur die draaiers van die twee spanne geneem.

Dit het selfs in drie van die vier kolfbeurte gebeur dat ’n draaier die nuwe bal geneem het.

In 21 gevalle is die kolwers geboul of been voor paaltjie betrap.

“Ek het eintlik gespot dat KSA omtrent $50 000 kon bespaar deur hul draaierskamp hier in Potch te hou en nie al die pad Indië toe te gaan nie.

Die Cobras-draaier George Linde het 11 paaltjies teen die Lions in Potchefstroom laat kantel, maar sy span kon steeds nie die knoop deurhak nie.Foto: Gallo Images

Nadat ’n ongehoorde 39 paaltjies op die eerste twee dae geval het, het albei spanne Woensdag by die veld opgedaag in die hoop en wete dat hulle kon seëvier.

Die Cobras het 15 lopies benodig en die Lions net een paaltjie.

Aviwe Mgijima (25) is deur Siboto (5/15 in 12.1 beurte) geboul om die kampioen, die Lions, die sege met 11 lopies te besorg.

Prince het Siboto lof toegeswaai vir sy puik boulwerk en al het sy span verloor, het hy hul veggees geloof om by die teiken te probeer uitkom in toestande wat glad nie bevorderlik was vir goeie krieket nie.

* Dit is sedert eenwording in Suid-Afrikaanse krieket in 1991 die tweede meeste paaltjies wat draaiers in ’n plaaslike eersterangse wedstryd geneem het. Die rekord is 30 in die 2012-’13-seisoen, toe George Linde en Matthew Kleinveldt toevallig ook vir die WP teen Griekwas in Kaapstad gespeel het.

Die draaiers van die Titans en eertydse Eagles het in die 2008-’09-seisoen in Benoni ook 28 paaltjies laat kantel.

Meer oor:  Ashwell Prince  |  George Linde  |  Dane Piedt  |  Kaapstd  |  Meerdagreeks  |  Krieket  |  Cobras  |  Blad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.