Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussie-nederlaag skok Ponting

Die voormalige Australiese kaptein Ricky Ponting het kaalvuis onder sy landgenote ingeklim en gesê daar was geen verskoning vir Australië se reeksnederlaag teen Indië nie.

’n Uitgedunde Indiese span het Dinsdag die vierde toets op die Gabba in Brisbane met drie paaltjies gewen om die reeks met 2-1 te beklink.

Mohammed Siraj van Indië word deur sy spanmaats gelukgewens nadat hy sy vyfde paaltjie in die vierde toets teen Australië platgetrek het. Foto: AP

Verskeie Australiese kenners, waaronder Ponting self, asook Mark Waugh, het voorspel dat die Aussies die reeks met 4-0 sou wen nadat Indië vir net 36 uitgeboul is in die eerste toets in Adelaide.

Ponting sê hy was geskok dat Australië nie goed genoeg was om die reeks teen ’n Indiese span met soveel beserings én sonder hul kaptein en beste kolwer, Virat Kohli (vir die laaste drie toetse), te beklink nie.

“Die koue, nugtere feite is dat dit effektief Indië se naasbestes in die (vierde) toets was en die land het steeds gewen,” sê Ponting.

“Dit is ’n rede tot kommer vir Australië.”

Die Aussies moet nou hul wonde lek in aanloop tot volgende maand se (onbevestigde) reeks teen Suid-Afrika.

Mitchell Starc moet vir ’n skandering van ’n dyspier gaan, terwyl die aanvangskolwers David Warner (lies) en Will Pucovski (skouer) nog ten volle van hul beserings moet herstel. Die res van die spelers gaan nou by hul spanne in die Big Bash-T20-liga inval.

Die Indiese media het intussen hul helde ná die reekssege geloof. Foto’s van Ajinkya Rahane se “vreeslose span” het op die voorblaaie van Indië se dagblaaie gepronk.

Rishabh Pant het ’n onoorwonne 89 gemoker om Indië te help om die eerste span sedert 1988 te word om Australië op die Gabba te klop.

“Niemand het geglo hulle kan dit doen nie. Hulle het!” het The Times of India op sy voorblad uitbasuin. The Hindu het “Vreeslose nuwe Indië” op sy voorblad gehad.

Indië is vir die laaste drie toetse deur Rahane aangevoer nadat Kohli terug Indië toe is vir die geboorte van sy dogter.

Indië was ook sonder ’n rits naatboulers en het ook nie die eerstekeuse-draaibalboulers, Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja, vir al die toetse beskikbaar gehad nie.

Dit was juis die diepte van Indiese krieket wat die oog gevang het.

Die voormalige Protea-ster AB de Villiers het op Twitter gesê: “Wat ’n toets! Die diepte van Indiese krieket is vreesaanjaend.”

Dié diepte is ’n bewys van die sukses van die Indiese Premierliga, waar elke span gedwing word om ’n kwota van opkomende spelers te kies.

Dié Indiese jongelinge skuur dan skouers met die wêreld se beste spelers en ontwikkel vinniger. – Sportredaksie, Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.