Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussie-reeks in SA gaan nog voort

Die krieketbeheerliggame van Suid-Afrika en Australië beplan steeds vir die toetsreeks tussen dié twee lande om voort te gaan, ondanks die Covid-19-situasie op tuisbodem.

Die Aussie Chadd Sayers loop verslae van die veld nadat Vernon Philander om uitgekry het op die laaste dag van die omstrede toetsreeks tussen Suid-Afrika en Australië in 2018. Suid-Afrika het die reeks met 3-1 gewen. Die reeks sal vir altyd onthou word vir die skuurpapierskandaal in die derde toets op Nuweland. Foto: Gallo Images

Daar is nog geen amptelike aankondiging gedoen nie, maar Netwerk24 verneem ’n reeks van drie toetse kan moontlik op 3 Maart begin.

Oudregter Zak Yacoob, die voorsitter van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad, het Donderdag gesê die besonderhede van die reeks is nog nie vasgestel nie.

“Ek het verlede week ’n gesprek met die voorsitter van Krieket Australië (Earl Eddings) gehad en ons het ooreengekom dat die toer voortgaan,” sê Yacoob.

“Ons het onderneem om te sorg dat ons geriewe so goed as moontlik sal wees en dat ons elke dag sal leer.

“Dit beteken egter nie dat ons enigiets verkeerd gedoen het toe Engeland (in Desember) hier (in die Kaap) was nie, want nie een van hul spelers het die virus opgedoen nie.”

Al wat ons kan doen, is bid dat dinge nie erger raak nie en dat gewone mense in ons land die regulasies eerbiedig.

Daar was omstredenheid toe die eendagreeks teen Engeland afgelas moes word. Daar was egter geen positiewe gevalle in die afgelope reeks teen Sri Lanka nie, wat in ’n bioborrel in Gauteng plaasgevind het. Die toetse teen Sri Lanka is in Centurion en op die Wanderers gespeel en ’n soortgelyke plan kan dalk vir die Aussies oorweeg word.

“Die virus verander egter deurlopend en ons leer hoe om daarby aan te pas. Ons luister na die raad van die kenners in dié gebied,” sê Yacoob.

“As die kenners bevestig dat die geriewe goed genoeg is, dan aanvaar ons dit. Ons weet egter ook dat die koronavirus vinnig verander en ons kan nie voorspel wat gaan gebeur nie.

“As (getalle skielik drasties begin toeneem) en ons kenners sê die toer kan nie voortgaan nie, dan is dit so. Al wat ons kan doen, is bid dat dinge nie erger raak nie en dat gewone mense in ons land die regulasies eerbiedig.”

KSA sal die planne vir die reeks “binne ’n week of so” bekend maak, sê Pholetsi Moseki, waarnemende uitvoerende hoof.

Oudregter Zak Yacoob, die voorsitter van die tussentydse raad. Foto: Nelius Rademan

• Yacoob sê die tussentydse raad, wie se termyn Donderdag deur die Nathi Mthethwa, minister van sport, tot 15 Februarie verleng is, se hooffokus is om ’n plan saam te stel oor hoe die bestuurstruktuur van KSA voortaan moet lyk.

Die tussentydse raad glo die raad moet in die toekoms die “sentrum van mag” wees wat “die daaglikse bedrywighede” van die beheerliggaam betref en nie die lederaad, wat tans die hoogste gesag is, nie.

Die tussentydse raad wil die Nicholson-aanbevelings van 2012, wat neerkom op ’n raad met meer onafhanklike lede, toepas. Die tussentydse raad kan egter teenkanting kry, want die lederaad, wat uit die 14 uniepresidente bestaan, moet enige veranderinge aan KSA se akte van inlywing, oftewel sy grondwet, bekragtig.

Yacoob-hulle se plan sal beteken dat daar minder lederaadslede op die raad dien en dat die lederaad dus minder mag in KSA het. Alle lederaadslede sal nie noodwendig hiervoor te vinde wees nie.

As die lederaad vasskop, kan Yacoob hom weer tot Mthethwa wend, wat die lederaad met dreigemente van regeringsinmenging kan oorreed om ’n nuwe raadstruktuur goed te keur.

• Yacoob het ook bevestig Peter Vonya, die gewese president van Oostelikes, is terug op die tussentydse raad nadat hy in Desember saam met Omphile Ramela van die raad verwyder is.

Volgens Yacoob kon Oostelikes, wat kapsie gemaak het oor Vonya se aanstelling op die tussentydse raad, nie voldoende bewyse lewer van Vonya se beweerde wanbestuur by dié unie nie.

Meer oor:  Ksa  |  Toetskrieket  |  Ka  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Covid-19  |  Australië  |  Krieket Australië  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.