Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies gooi ‘as’ in Engeland se oë
Die voggies vloei terwyl die Australiërs Sondagaand hul oorwinning op Old Trafford vier. Foto: Getty Images

Nadat Australië Sondag met sy oorwinning in die vierde kriekettoets in Manchester seker gemaak het hy behou die As, het sy spelers met hul luidrugtige vieringe en ’n gespot verdere sout in die Engelse wonde gevryf.

Die span hou egter vol dat die Engelse draaibalbouler Jack Leach nie die teiken van ’n draakstekery was nie.

Justin Langer, afrigter van die Australiërs, het hom Dinsdag agter sy span geskaar en sê die gespottery het oor Chris Rogers, die aanvangskolwer wat in 2015 laas vir die span gespeel het, gegaan.

Die Aussies het later die aand, nadat die Engelse span en ondersteuners huis toe is, op Old Trafford in ’n kringetjie op die buiteveld die sege gevier en die span se oorwinningslied, “Under the Southern Cross I Stand”, uitgebulder. Steve Smith, wat die Engelse met 671 lopies in vyf beurte in die reeks gekasty het, het luidens berigte ’n bril te voorskyn gebring, dit gevryf, opgesit en ’n linkerhandse kolfstyl nageboots.

Daar is bespiegel dat hy gespot het met Leach, een van die Engelse helde wat op Headingley gehelp het om ’n sege in die derde toets voor die Australiërs weg te raap. Leach het telkens voordat hy ’n bal trotseer het sy bril afgehaal en die lense skoon gevryf.

“Ondervinding het my geleer dat as jy goed vaar, probeer mense altyd fout vind,” sê Langer.

“Ek weet wat die waarheid is. Chris Rogers is ’n groot vriend van die span en dit is al waaroor dit gegaan het.”

Rogers, wat ook soms op die krieketveld ’n bril gedra het, het bevestig dat Smith ’n boodskap aan hom gestuur het.

“Hy het daardie foto (van die gekskeerdery) vir my gestuur. Ek het vanoggend wakker geword en die foto gesien. Hy het gesê hy het dit ter ere van my gedoen,” het Rogers op The Grade Cricketer-podsending gesê.

Nathan Lyon en ’n bebrilde Steve Smith vier saam met spanmaats hul oorwinning in die vierde toets in die reeks om die As op Old Trafford in Manchester. Met dié sege het hulle verseker dat Australië die As behou. Foto: Getty Images

“Ek is nie heeltemal seker of ek ’n rookskerm is nie. Ek was in elk geval geraak deur sy boodskap. Dit lyk asof hulle pret gehad het.”

Twee weke gelede het ’n video die ronde gedoen waarin die einste Leach demonstreer hoe hy sy enigste lopie in ’n onoorwonne vennootskap van 76 om die tiende paaltjie saam met Ben Stokes, op Headingley aangeteken het.

Die Australiërs, en veral Smith en David Warner, het in die reeks deurgeloop onder Engelse ondersteuners wat hulle voortdurend uitgejou en met skuurpapier aan verlede jaar se balpeutery-skandaal herinner het.

Sondagaand het die Australiërs met hul oorwinningskrete ’n duidelike boodskap vir die Engelse gehad.

“Wie het ons geklop? Engeland. Hoe het ons dit gedoen? Maklik,” het hulle gebulder.

* Australië loop met 2-1 voor in die reeks om die As. Die vyfde en laaste toets begin Donderdag op The Oval in Londen.

– Sport24, The Telegraph, Stuff

Meer oor:  Toetskrieket  |  Steve Smith  |  Reeks Om Die As  |  Jack Leach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.