Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies pos Wade vir reeks teen Proteas

’n Paar middelmatige vertonings met die kolf het Matthew Wade sy plek in Australië se toetsspan gekos vir die reeks van drie kriekettoetse, wat geskeduleer is om in Maart teen die Proteas in Suid-Afrika beslis te word.

Die lang pad terug paviljoen toe. Matthew Wade nadat hy in die Aussies se tweede kolfbeurt in die derde toets teen Indië sy paaltjie verloor het. Foto: Getty Images

Wade kon in die onlangse reeks van vier toetse teen Indië slegs 173 lopies in agt kolfbeurte bymekaarskraap Hy sal nou saam met die Aussies se T20-span na Nieu-Seeland reis vir ’n reeks van vyf wedstryde.

Terwyl Wade sy plek in die toetsspan kwyt is, is Travis Head weer nadergetrek – volgens die keurder Trevor Hohns vir die groter waarde wat hy (Head) tot die span toevoeg.

“Hy (Wade) het beslis nie genoeg in die laaste paar toetse gedoen nie. Ek is nie onregverdig nie, hy sal dit self ook erken,” het Hohns aan verslaggewers oor Wade se weglating gesê.

“As senior speler verwag ons effens meer van hom.”

Head is ná die eerste twee toetse in die reeks teen Indië uit die span gelaat nadat hy tellings van 7, 38 en 17 aangeteken het. Australië het die reeks met 1-2 verloor.

“In Travis se geval . . . het hy ’n bietjie meer om te bied en ons het vertroue in hom gewys om hom die geleentheid te gee om sy plek in die span weer terug te kry. Ons het in ag geneem dat hy waarskynlik in so ’n mate kan verbeter dat hy weer plek in die Australiese 11-tal kan kry.”

Volgens die Australiese keurder Trevor Hohns is Tim Paine se rol as kaptein nie iets wat hulle hoegenaamd bespreek het nie. Foto: Getty Images

Alex Carey, kolwer en paaltjiewagter, en die snelbouler Mark Steketee is die spelers sonder toetservaring in die groep van 19. Volgens Hohns is Carey gekies indien die kaptein, Tim Paine, nie beskikbaar is om die groot handskoene te dra nie.

Die keurder het ook in die bresse getree vir Paine, wat onder kritiek deurgeloop het ná die reeksnederlaag teen Indië. Daar is diegene wat voel dat hy die kapteinskap moet opgee en uitsluitlik op sy rol as paaltjiewagter en kolwer moet fokus.

“Wat ons betref, was daar nog nooit ’n kwessie oor Tim se leierskap nie. Tydens ons vergadering het ons nie ’n enkele minuut daaraan afgestaan nie. Sommige van die kritiek wat hy moet verduur, is nogal vergesog,” sê Hohns.

Die aanvangskolwers Will Pucovski en David Warner, sowel as die snelboulers Mitchell Starc en James Pattinson is almal by die groep ingesluit – ten spyte daarvan dat hulle onlangs nog met beserings gesukkel het.

Die onderskeie krieketrade van Australië en Suid-Afrika moet steeds die datums vir die toetse bepaal – met Suid-Afrika wat tans midde-in ’n tweede vlaag van Covid-19-infeksies is. – Reuters

Australië se toetsgroep: Tim Paine (k), Pat Cummins, Sean Abbott, Alex Carey, Cameron Green, Marcus Harris, Josh Hazlewood, Travis Head, Moises Henriques, Marnus Labuschagne, Nathan Lyon, Michael Neser, James Pattinson, Will Pucovski, Steve Smith, Mitchell Starc, Mark Steketee, Mitchell Swepson en David Warner.
Meer oor:  Krieket  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Australië  |  Matthew Wade  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.