Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies verneder vrot Proteas

1ste T20-wedstryd, Johannesburg:

Aus 196/6. SA 89 (14.3 bbe.).

Aus wen met 107 lopies.

Dale Steyn het puik geboul in die eerste T20-wedstryd teen Australië.Foto: Gallo Images

Dis nou dat Quinton de Kock se kapteinskap getoets gaan word. Ja, Suid-Afrika het die laaste twee T20-wedstryde teen Engeland ook verloor.

Maar dié is anders. Dié is vernederend. Dit is Suid-Afrika se grootste T20-nederlaag nóg – die vorige grootste was met 95 lopies. Dis ook die kleinste totaal wat die Proteas nog aangeteken het, swakker as die 98 in 2018 teen Sri Lanka.

Teen Engeland het hulle minstens goed gespeel. Vrydag was ’n totale misoes. Die boulers het die bal in die kragspel en in die doodsnikbeurte te kort geplant. Die veldwerk was swak.

Maar dit kom nie naby die kolfwerk nie. In die reeks teen Engeland het De Kock en Temba Bavuma die span in elke wedstryd tot ’n puik begin gehelp. Hul kleinste vennootskap was 48. Vrydag het Suid-Afrika reeds sewe paaltjies plat gehad teen die tyd dat hulle verby 48 geskuif het.

De Kock is met die derde bal van die beurt deur Mitchell Starc skoongeboul en enige vroeë momentum wat die Proteas moontlik kon kry, was opslag daarmee heen. Die res van die kolfwerk was genoeg om ’n mens na drank te dryf. Die draaier Ashton Agar (5/24 in vier bbe.) het selfs ’n driekuns in die agtste beurt behaal.

Faf du Plessis (24, 22 b) is die enigste kolwer wat melding verdien. Suid-Afrika het (die beseerde) Bavuma gemis – sy vermoë om lopies teen goeie boulwerk aan te teken, is van onskatbare waarde. Rassie van der Dussen (6, 10 balle) het gesukkel as aanvangskolwer teen hoëgehalte-boulwerk.

Die Aussies vier Vrydagaand fees oor David Miller se paaltjie.Foto: Reuters

Die kolfwerk was goed teen Engeland. Dit was die boulwerk wat gekwel het en Vrydagaand was die boulplanne weer swak.

Suid-Afrika het die sneltrio ingespan wat Ottis Gibson desperaat verlede jaar in die Wêreldbeker-toernooi wou kies: Dale Steyn, Kagiso Rabada en Lungi Ngidi. Weens beserings aan Steyn en Ngidi kon dié drietal nie in een wedstryd in Engeland saam speel nie.

Hulle het nog net in drie witbalwedstryde saamgespan voor Vrydagaand s’n – in drie eendagwedstryde teen die einste Aussies doer onder in November 2018. Suid-Afrika het daardie reeks met 2-1 gewen.

Gibson was oortuig dié boulers kon van die Proteas ’n krag in die WB-toernooi gemaak het.

Dalk het Mark Boucher, Gibson se opvolger, dieselfde plan met die oog op die T20-Wêreldbeker (T20-WB) later vanjaar in Australië.

Dan sal hulle wraggies beter moet wees as Vrydagaand, veral Ngidi (1/37 in drie) en Rabada (0/45 in drie). Rabada was duidelik verroes ná sy blaaskans, al het hy goed gekolf vir sy 22 lopies.

Hulle het met tye hopeloos te kort geboul, maar Steyn (2/31 in vier) was goed. Hy het sy spoed en lengtes uitstekend afgewissel.

Steyn, Phehlukwayo (1/35 in vier beurte) en Tabraiz Shamsi (2/31 in vier) se boulwerk in die middel was die enigste ligpunt van Suid-Afrika se boulwerk.

Dit lyk ook of die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners die skuurpapierskurke David Warner (4) en Steve Smith vergewe het. Hulle die kolfblad toe gestap sonder die koor van uitjouery wat ’n mens verwag het. Net so hier en daar het iemand ge-boe, maar dit was skaars hoorbaar en van korte duur.

Smith was goed met die kolf (45, 32 balle), maar was wel gelukkig dat hy nie vir 0 van Lungi Ngidi se boulwerk deur Steyn op derde man uitgevang is nie. Steyn het sig oor die bal in die lug verloor.

Smith en Aaron Finch (42, 27 b) se blitsbegin het Australië tot hul goeie telling gehelp. Tog sou die Proteas voel hulle kan 196 op die Wanderers jaag, of minstens naby kom.

Benewens die uitslag, was dit ook ’n jammerte dat die ou staalpaviljoen met die houtsitplekke, die oostelike ope-paviljoen, weens veiligheidsredes voor die wedstryd gesluit moes word, glo weens reën wat vroeër Vrydag geval het.

Mense wat kaartjies vir daardie gebied gehad het, moes inderhaas ander sitplekke kry.

Dis geen geheim dat dié paviljoen al jare ietwat vervalle (lees: twee oorgewig toeskouers weg van ineenstorting) lyk nie. Dit is gewoonlik waar jolige studente sit.

Veldwerkers wat op die grens voor die bleachers veldwerk doen, word gereeld uitgejou en kreatiewe beledigings toegesnou deur kreature met ’n bier in die hand.

Dalk sou Warner en Smith daar op die grens meer stief behandel gewees het. Dalk sou die studente op hul gereelde plek Suid-Afrika aangespoor het om darem ’n bietjie beter te vertoon. Maar dan weer, Vrydag sou slegs ’n wonderwerk dít kon doen.

  • Die tweede T20-wedstryd is Sondag op St. Georgepark in Port Elizabeth.
Meer oor:  Krieket  |  Wanderers  |  Proteas  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.