Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies wil dalk krieketballe ontsmet

Krieket Australië (KA) oorweeg die moontlikheid om krieketballe tydens wedstryde te ontsmet om die gesondheidsrisiko vir spelers te verminder tydens die Covid-19-pandemie, sê die hoof van hul mediese span.

Alex Kountouris het Woensdag in ’n videokonferensie gesê om die bal te ontsmet, is gewis ’n oorweging.

Die gesondheid van spelers is belangrik en daar is reeds deur die Internasionale Krieketraad se krieketkomitee voorgestel dat daar ’n verbod moet wees om spoeg aan die bal te smeer om dit te laat blink en swaai.

Josh Hazlewood sê dis tweede natuur om ’n krieketbal met speeksel blink te poets. Foto: Getty Images

“Ons weet nie watter uitwerking dit op die bal sal hê om dit te ontsmet nie, want dit is nog nie getoets nie. Ons sal met die Internasionale Krieketraad (IKR) praat en toestemming kry. Omdat die bal van leer gemaak is, sal dit moeiliker wees om dit te ontsmet.

“Ons weet dus nie hoe doeltreffend dit sal wees nie en ons weet ook nie of dit toegelaat sal word nie.

“Dit is egter ’n oorweging en alles wat op die tafel is, sal oorweeg word.”

Kountouris sê die verbod daarop dat die bal met speeksel blinkgevryf kan word, sal moeilik wees om aan gewoond te raak vir die spelers.

“Sommige spelers lek hul vingers voordat hulle die bal vashou. Hulle is ook gewoond daaraan om die bal met hul vingers te vryf. Daar sal wel foute gemaak word,” sê hy.

“Gesonde oordeel sal moet seëvier en dat alles nie perfek sal uitwerk nie,” sê hy.

Die Aussie-snelbouler Josh Hazlewood voel ook dit sal moeilik wees om beheer uit te oefen op die beplande verbod om speeksel aan die bal te smeer. Hy reken egter dit sal nie veel verskil aan die kuns van swaaiboulwerk maak nie.

Sweet, wat minder oordraagbaar is, sal wel nog toegelaat word, maar Hazlewood glo dit gaan moeilik vir skeidsregters wees om die praktyk te beëindig om spoeg op die bal te sit.

“Ek sal graag speeksel aan die bal wil sit, maar as daarteen besluit word, sal almal daarby moet aanpas,” het hy aan die Sydney Daily Telegraph gesê.

“Dit is al so tweede natuur om wanneer die bal na jou toe kom terwyl jy boul, jy so bietjie speeksel daaraan vryf en dit sal nie maklik wees om stop te sit nie,” erken hy.

Hy is ook onseker hoeveel verskil dit aan die doeltreffendheid van boulers sal maak. – Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  T20  |  Toetskrieket  |  Ka  |  Eendagkrieket  |  Covid-19  |  Krieket Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.