Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies wil verhouding met KSA herstel

Australië sal “so gou as moontlik” ’n ander datum vir sy uitgestelde toer na Suid-Afrika reël, maar net as die gesondheidsituasie en die kalender dit toelaat.

So het Nick Hockley, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Australië (CA), gesê nadat die Aussies hulle onttrek het aan die toetsreeks wat die span in Maart en April in Suid-Afrika sou gespeel het.

Nick Hockley van Krieket Australië (CA) sê hulle wil so gou as moontlik ‘n ander datum vir die uitgestelde toetsreeks teen die Proteas vasstel. Foto: Getty Images

CA het toe gewys op “die onaanvaarbare vlakke van risiko met betrekking tot die gesondheid en veiligheid van die spelers, ondersteunende personeel en die gemeenskap” as die rede dat hy nie die toer van drie toetse kon nakom nie.

Dit was ’n besluit wat Krieket Suid-Afrika (KSA) erg omgekrap het, veral nadat die plaaslike beheerliggaam gesê het dat hy agteroor gebuig en heelwat uitgawes aangegaan het om Australië se veiligheidsvereistes na te kom.

KSA het toe ook ’n brief aan die Internasionale Krieketraad (IKR) geskryf waarin hy vra dat hy finansieel vergoed word vir die geldelike skade wat CA se besluit hom berokken het.

Hockley sê die “eerste tree” om sy verhouding met KSA te herstel, sal wees om ’n nuwe datums vir die toer te vind.

“Ons wil so gou as moontlik doen, mits dit veilig is en daar tyd daarvoor op die kalender is,” het hy aan koerante gesê wat deur Nine Network besit word.

“Dit is nie ’n maklike taak nie. Daar is baie krieketwedstryde wat tydens die pandemie en kwarantyntydperke na ander datums geskuif moes word.

Ons wil so gou as moontlik doen, mits dit veilig is en daar tyd daarvoor op die kalender is.
Nick Hockley

“Ons is egter besig met konstruktiewe gesprekke en hopelik kan dit vinnig opgelos word.”

Australië het hom ook verlede jaar weens die Covid-19-pandemie aan sy toetsreeks teen Bangladesj en ’n witbalreeks in Zimbabwe onttrek.

Die raad het sy tuistoets teen Afganistan ook afgelas, tesame met ’n T20-reeks op eie bodem teen die Wes-Indiese Eilande, wat as opwarming vir die uitgestelde T20-Wêreldbeker-toernooi sou dien.

Ten spyte van die pandemie, het Australië egter verlede jaar ’n witbal-toer na Engeland onderneem en ook vir Indië in vier toetse en twee T20-stryde gasheer gespeel.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het die IKR verlede maand gewaarsku dat kleiner lande ook genoegsame toetse moet hê teen die sogenaamde “Groot Drie” van Indië, Engeland en Australië, anders loop die sport die gevaar om deur T20-ligas oorheers te word. – Reuters

Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Krieket Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.