Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aussies wys flou boulwerk gaan grens toe
Steve Smith het ’n puik beurt gespeel.Foto: Reuters

Alles is vergewe en vergete.

Die skuurpapierskurke David Warner en Steve Smith het Vrydagaand op die Wanderers na die kolfblad gestap sonder die koor van uitjouery wat ’n mens verwag het. Net so hier en daar het iemand ge-boe, maar dit was skaars hoorbaar en van korte duur.

Warner se terugkeer tot die speelveld in Suid-Afrika het egter vinnig tot ’n einde gekom. Hy het Dale Steyn se eerste bal vir vier geslaan. Hy het sy tydsberekening verkeerd gekry met die tweede bal, wat korter en meer in lyn met sy lyf geplant is.

Warner is uit vir vier, maar Smith (45, 32 balle) het veel beter gevaar. Hy was wel gelukkig dat hy nie vir 0 van Lungi Ngidi se boulwerk deur Steyn op derde man uitgevang is nie. Steyn het sig oor die bal in die lug verloor.

Smith en Aaron Finch (42, 27 b) se blitsbegin het Australië tot 196/6 gehelp. As die Proteas nog gewonder het, weet hulle nou: Die Aussies se topdrie is hul grootste kolfbedreiging.

Die Protea-boulwerk aan die begin en einde van die beurt was te wisselvallig. Die veldwerk was ook swak en dié faktore het die telling groter laat swel as wat dit moes wees.

Steyn, Andile Phehlukwayo (1/35 in vier beurte) en Tabraiz Shamsi (2/31 in vier) se boulwerk in die middel was ’n pluspunt.

Suid-Afrika het die sneltrio ingespan wat Ottis Gibson desperaat verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi wou kies: Steyn, Kagiso Rabada en Ngidi. Weens beserings aan Steyn en Ngidi kon dié drietal nie in een wedstryd in Engeland saam speel nie.

Hulle het nog net in drie witbalwedstryde saamgespan voor Vrydagaand s’n – in drie eendagwedstryde teen die einste Aussies Doer Onder in November 2018. Suid-Afrika het daardie reeks met 2-1 gewen.

Lungi Ngidi sit met sy hande in sy hare nadat ’n kans verbrou is om Steve Smith uit te kry.Foto: AP

Gibson was oortuig dié boulers kon van die Proteas ’n krag in die WB-toernooi gemaak het.

Dalk het Mark Boucher, Gibson se opvolger, dieselfde plan met die oog op die T20-Wêreldbeker (T20-WB) later vanjaar in Australië.

Vrydagaand het veral Ngidi (1/37 in drie) en Rabada (0/45 in drie) met tye hopeloos te kort geboul. Steyn (2/31 in vier) was strykdeur goed. Hy het sy spoed en lengtes uitstekend afgewissel.

Hy het hom ook nou en dan daaraan skuldig gemaak dat hy te kort boul, maar hy kan ’n enorme bate by die T20-WB wees.

Rabada was verroes ná sy blaaskans. Hy het 34 lopies in sy laaste twee beurte afgestaan.

Die probleem met ’n aanval waarin al drie dié snellers speel, is dat jou eindkolwers nou by nr. 8 begin.

’n Sterk toporde, dalk bestaande uit Quinton de Kock, Temba Bavuma, AB de Villiers en Faf du Plessis, kan straks die probleem uitskakel, veral in ’n T20-wedstryd. Dit beroof jou nietemin van ’n versekeringspolis.

Gepraat van versekering – hopelik het die Gautengse Krieketunie ’n polis op hul paviljoene uitgeneem.

Dis ’n jammerte dat die ou staalpaviljoen met die houtsitplekke, die oostelike ope-paviljoen, weens veiligheidsredes voor die wedstryd gesluit moes word, glo weens reën wat Vrydag vroeër geval het.

Mense wat kaartjies vir daardie gebied gehad het, moes inderhaas ander sitplekke kry.

Dis geen geheim dat dié paviljoen al jare ietwat vervalle (lees: twee oorgewig toeskouers weg van ineenstorting) lyk nie. Dit is gewoonlik waar jolige studente sit.

Veldwerkers wat op die grens voor die bleachers veldwerk doen, word gereeld uitgejou en kreatiewe beledigings toegesnou deur kreature met ’n bier in die hand.

Dalk sou Warner en Smith daar op die grens meer stief behandel gewees het.

Meer oor:  Krieket  |  T20-Reeks  |  Wanderers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.