Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Dié planne is mos ongehoord, KSA!’

Dit is ongehoord dat die uitvoerende hoof van ’n nasionale krieketbeheerliggaam betrokke raak by kwessies soos spankeuses en die speelstyl van die nasionale span, sê dr. Ali Bacher.

Bacher, ’n voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein en administrateur, het vandeesweek ook gesê hy het simpatie met Ottis Gibson oor die wyse waarop hy as die Proteas se breier gepos is.

Hy meen Mark Boucher is eerder nou die geskikste kandidaat om die Proteas te brei in die “onstuimigste tydperk sedert 1991”.

Thabang Moroe
Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof.

Hy is nie te vinde vir die veranderinge wat Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, aan dié liggaam se bestuurstruktuur aangebring het nie.

“Die afrigter, of wat ook al jy hom wil noem, moet saam met die kaptein en sameroeper van die keurkomitee outonomie oor die nasionale span se speelstyl en spankeuses hê,” sê Bacher.

Volgens die nuwe struktuur sal Moroe die finale sê hê oor besluite wat die nuwe direkteur van krieket en sogenaamde spandirekteur, wat voortaan die Proteas gaan afrig, maak.

“Toe ek die uitvoerende hoof (van die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika tussen 1991 en 2001) was, het ek nooit betrokke geraak nie, selfs al het ek ervaring as speler gehad. Ek het vir Peter Pollock, wat die sameroeper van die keurkomitee was, gesê hy moet my nie eens bel en sê wat sy spankeuses is nie.

“Nêrens ter wêreld raak die uitvoerende hoof betrokke nie. Dit is ongehoord. Dit is ’n probleem,” sê Bacher.

Moroe het vandeesweek gesê KSA wil graag insae in die Pro­teas se speelstyl en spankultuur hê.

Ali Bacher

Op ’n vergadering in Februarie vanjaar het die raad boonop kortstondig aan Moroe die reg gegee om spankeuses te “veto” – ’n reg wat slegs drie dae van krag was voordat Chris Nenzani, KSA se president, dit teruggetrek het weens ontevredenheid uit spelersgeledere. Moroe het vandeesweek gesê sy bedoeling was nooit om by spankeuses in te meng nie, maar slegs om te verseker dat transformasieteikens bereik word.

Die nuwe bestuurstruktuur sentraliseer al die mag by Moroe, wat besluite kan neem sonder om dit eers deur die raad te laat goedkeur.

“Hoekom is die raad dan daar?” vra Bacher.

Die eerste besluit wat Moroe en die waarnemende direkteur van krieket, Corrie van Zyl, geneem het, is om die 36-jarige Enoch Nkwe Vrydag as die deeltydse spandirekteur vir die toer na Indië in September en Oktober aan te stel. Dit volg nadat Gibson, die vorige breier, se kontrak nie hernieu is nie.

“Ek het simpatie met Gibson. Ek dink hy kan te nagekom voel, want ek dink nie hy het te swak gevaar nie,” sê Bacher.

“Ek dink ook by die Wêreldbeker moes hy met ’n baie jong span klaarkom nadat AB de Villiers uitgetree het, Dale Steyn beseer is en met Hashim Amla wat die einde van ’n skitterende loopbaan bereik het.”

Bacher, wat sê hy glo nie in strukture nie, maar wel daarin om jou met “goeie mense” te omring, voel Boucher is die regte man om die Proteas vorentoe te vat.

Só laat Moroe die tonge klap
  • “As jy daaroor dink, moet jy werklik swak vertoon om jouself onder daardie 70 te bevind.”  Oor die herstrukturering van plaaslike krieket, wat ongeveer 70 spelers hul werk gaan kos.
  • “Ons is op soek na bestuursvernuf en ek dink nie jy slyp dít as ’n eersterangse krieketspeler nie.” Toe hy gepols is oor die tekort aan spelerservaring onder KSA-baadjiedraers. 
  • “Die siening daarbuite was dat ek by spankeuses wou inmeng. Dit is nie waar nie.”Oor die skrapping van die omstrede “veto-reg”.
  •  “Daar is sekere dinge in die spanomgewing waarop ek ’n invloed wil hê.” Oor die motivering agter KSA se besluit om sy bestuurstruktuur te verander.
oe die tonge klap

“Nkwe is nog baie jonk en hy het nie baie ervaring nie. Ons nader nou die moeilikste tydperk in Suid-Afrikaanse krieket sedert hertoetrede in 1991. Die Proteas het ’n baie jong span.

“Ek hoor baie goeie dinge van Nkwe, maar hy het nog nie baie ervaring nie en het ook nie internasionale ondervinding nie.

“Die oplossing is eenvoudig – ek glo nie ons kan ’n buitelander aanstel nie, want hulle verstaan nie die kompleksiteite van Suid-Afrikaanse politiek nie.

“Ek glo dus daar is net een mens wat met die taak toevertrou moet word, en dit is Mark Boucher.

“Hy het baie goed gevaar by die Titans die laaste paar jaar. Hy is ’n taai sportman, geestelik sterk. Oor die wêreld heen word hy ook gerespekteer.”

Bacher sê hy het tydens die Wêreldbekertoernooi vir ’n paar dae in dieselfde hotel as die Proteas gebly en kon sien dit is ’n span met min selfvertroue.

“Daardie span het nou geestelike taaiheid en sterk leierskap nodig.

“Die ideale situasie sal wees om Nkwe in te bring en saam met Boucher te laat afrig, dan kan hy later by hom oorneem,” sê Bacher.

Moroe en Van Zyl sê hulle beplan om vaste aanstellings te maak in die poste van spandirekteur en direkteur van krieket voordat Engeland in Desember hier kom toer.

Meer oor:  Ottis Gibson  |  Uitvoerende Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.