Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bacher en Ewie maak vrede ná 20 j.

Die trane het geloop toe dr. Ali Bacher die afgelope week ná ’n stilte van 20 jaar ’n emosionele olyftak-oproep na Hansie Cronjé se pa, Ewie, gemaak het. 

Bacher, wat die grootbaas van SA krieket was toe die Cronjé-bom rondom wedstrydknoeiery gebars het, het aan Rapport gesê die korona-krisis het hom tot introspeksie gedwing. 

Hansie Cronjé by die kommissie van ondersoek na krieketknoeiery.

“Die afgelope ruk het ek vreeslik oor die verlede en my lewe nagedink ... en die een ding wat ek moes regmaak, was my verhouding met Hansie se pa, Ewie.”

Ewie (80), wat ernstig siek is met maagkanker, was te swak om tydens die oproep te praat, maar het te kenne gegee dat hy en Bacher se vriendskap nou herstel is. 

Hansie se suster, Hester Parsons, sê Bacher se gebaar het ongelooflik baie vir die Cronjé-gesin beteken. 

Ali het jammer gesê en Pappa het hom vergewe.
Hester Parsons

“Mamma het die foon teen Pappa se oor gehou en Pappa het gelê en luister. Sy sê Pappa was verskriklik emosioneel en hartseer. Ná die tyd het hy vir haar verduidelik hy wens hy kon terugpraat. Hy wou só graag ’n gesprek met Ali hê en hom terugantwoord. 

“Sy oproep het só baie vir my pa en my ma en ons as gesin beteken, maar vir Pappa veral. Ali het jammer gesê en Pappa het hom vergewe. Jy weet, ’n vriendskap van so lank ...”

Dan raak sy bewoë en die trane kom. 

Ewie Cronjé word in 2002 by Hansie se begrafnis ondersteun deur sy swaer Wiester Strydom se dogter, Gerda. Foto: Gallo

Bacher (77) vertel hy en sy vrou, Shira, het begin Maart teruggekeer van Israel, waar hulle ’n familie-troue bygewoon het.

“Weens die koronavirus het ons tuis dadelik in isolasie gegaan.” 

In die vyf weke wat hy en ­Shira reeds tuis is, het Bacher diep oor sy lewe nagedink. 

Hy sê met Hansie se lewenslange skorsing uit krieket het sy vriendskap van byna twee dekades met Ewie tot stilstand gekom. 

“My verjaardag is 24 Mei. Voor Hansie se skorsing het Ewie my elke jaar op my verjaardag gebel of ’n boodskap gestuur. Dit het net opgehou en ek het verkeerdelik aangeneem dat hy kwaad was vir my. Die afgelope 20 jaar het ons nie gepraat nie, en met die datum wat nader kruip, en die virusvrees wat so in die lug hang, het ek gevoel ek moes iets doen,” sê Bacher. 

Hy het oorlede Hansie se ouer broer, Frans, gebel.

“Ek wou weet of dit in orde sou wees om sy pa te bel. Frans het my teruggebel en gesê die familie het geen probleem met my nie, ek kan maar vir Ewie bel. Daar was egter een probleem. Ewie is baie siek en kan nie meer praat nie.”

Mense was woedend vir my. Amper die hele land het teen my gedraai.
Ali Bacher

Bacher se stem kraak.

“Ek het Ewie se vrou, San-Marie, gebel. Sy het alles wat ek gesê het neergeskryf en Ewie kon dit lees. Sy het elke keer net gesê ‘Ewie knik, hy knik’ en só het ons die ding uitgesorteer,” sê Bacher.

Parsons sê haar pa se maagkanker is baie gevorderd. “My ma en ’n inwoon-versorger sien om na hom by hulle huis. Hy moes nou vir nog ’n ronde chemoterapie gegaan het, maar korona het alles verander.”

Sy sluk swaar.

“Ek dink nie my pa gaan weer terug hospitaal toe nie.”

Ali Bacher, ’n voormalige nasionale krieketkaptein en oud-grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket, in 2012. Foto: Elizabeth Sejake

Bacher sê hul vriendskap kom uit die vroeë tagtigs.

“Ek het in 1981 by Transvaal die leisels oorgeneem en, ek dink, in 1991 by Suid-Afrikaanse krieket. In hierdie tyd het ek Meneer Bloemfontein, Ewie Cronjé, ontmoet en ons gedeelde liefde vir krieket het ons gou hegte vriende gemaak.”

Toe Hansie as krieketspeler en kaptein op die toneel verskyn het, het hy en Bacher gou ’n kameraadskap gesluit.

“My groot passie was nog altyd krieket-ontwikkeling, dis hoekom ek al in 1986 in die townships begin het daarmee. Ek kan in alle eerlikheid vir jou sê in die afgelope 30 jaar het geen ander Suid-Afrikaanse kaptein daardie visie met my gedeel soos Hansie nie,” sê Bacher.

Hy sê Hansie was altyd reg om daarmee te help, maak nie saak hoe ongeleë sy ontwikkeling-versoeke was nie.

“Ek onthou ek het hom een keer twee dae voor ’n groot wedstryd in Bloem gebel en gevra of hy die span na die township toe kan vat vir ’n kliniek. Ek het vir hom gesê daar is geen druk nie, as hulle nie kan nie, sal ek verstaan. Hansie het nie vrae gevra nie en eenvoudig tyd gemaak om die span te vat.” 

Ná die Ewie-oproep kan ek met ’n oop hart vir jou sê my Hansie-bladsy is skoon.
Ali Bacher

Bacher sê Hansie se val en latere dood het hom diep getref.

“Ná die Ewie-oproep kan ek met ’n oop hart vir jou sê my Hansie-bladsy is skoon. Ek sal nooit vergeet toe ’n huilende Hansie my gebel het nadat oorlede Percy Sonn op rekord gesê het Hansie mag nooit weer krieket speel nie, nie eens op die strand nie. Hansie was so hartseer. Sy berou was so oorweldigend,” sê Bacher. 

Hy sê hoewel Hansie sy foute erken het, was sy lewenslange skorsing uit die sport iets wat Suid-Afrikaanse aanhangers dwars in die krop gesteek het.

“Mense was woedend vir my. Amper die hele land het teen my gedraai. En dit was nie my besluit of selfs ’n Suid-Afrikaanse krieket-besluit nie. Dit het regstreeks van die Internasionale Krieketraad gekom.”

Hansie en Mornantau Hayward vier ’n paaltjie in die berugte verkorte toets teen Engeland in 2000 in Centurion. Foto: Rian Botes | Legends Sport

Cronjé se dood was ’n reuse-skok. “Na sy dood was dinge baie moeilik. Daar was allerhande bespiegelinge oor vuilspel en ’n gepeuter aan die vliegtuig, maar dit was eenvoudig nie moontlik dat iemand met bose gedagtes kon geweet het Hansie sou op daardie vragvliegtuig gewees het nie. Hy het op die nippertjie besluit om op die vragvliegtuig te klim nadat alle passasiersvlugte weens die ongure weer in Johannesburg gekanselleer is,” sê Bacher. 

Hy lê die skuld vir die vliegongeluk steeds voor die weersomstandighede se deur. “ ’n Baie goeie vriend van my, John Bryant, was destyds Standard Bank se direkteur van bemarking. Hy het naby die plek gebly waar die vliegtuig geval het. Daardie oggend het hy my gebel en gesê die mis is so erg dat hy nie meer as ’n voet voor sy kar kan sien nie, al het hy sy ruitveërs en misligte aan.”

Hansie se begrafnis in 2002 het ou wonde net weer oopgekrap. “Daar was stories in die media dat Ewie nie enige krieketbeamptes by die begrafnis wou hê nie. Toe bel ek vir Ewie en die ware heer wat hy is, het hy gesê ek is welkom om te gaan. 

“Ek en die destydse sportminister, Ngconde Balfour, het daardie aaklige dag dieselfde tyd by Grey Kollege opgedaag. ’n Hele klomp plaaslike mense het buite vir my gewag. Of hulle my wou aanrand of slegsê, weet ek nie, maar die minister se lyfwagte het tussenbeide getree en moeilikheid verhoed,” sê Bacher. 

Wat die wedstrydknoeiery betref, het Bacher lankal vir Cronjé vergewe. “Die geskiedenis gaan op rekord hê dat Hansie ’n verskriklike ding gedoen het. Hy het die verkeerde rigting ingeslaan en daar is niks wat mens kan sê of doen om dit te verander nie al wens jy jy kon, maar hy was ’n goeie mens en bitter lief vir krieket.

“Ek is so bly ek het Ewie gebel. Ons almal maak foute. Party foute is ernstiger as ander, maar mens moet mekaar vergewe en ons moet leer uit daardie foute. Jy kan kwaad gaan slaap, maar dan moet jy die volgende dag die ding uitsorteer. Dis nie gesond om so iets vir 20 jaar te los nie.” 

Meer oor:  Krieket  |  Hansie Cronjé  |  Ali Bacher  |  Ewie Cronjé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.