Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Markram kan een van heel grotes word

Al het Suid-Afrika slae gekry in die eerste kriekettoets teen Australië, is daar ’n ster vir die toekoms gebore in Aiden Markram.

Só sê dr. Ali Bacher, wat die Suid-Afrikaanse kaptein was toe die Aussies laas hier op tuisbodem in 1970, ’n volle 48 jaar gelede, geklop is in ’n reeks.

Aiden Markram het groot indruk gemaak met sy groot kolfbeurt teen die Aussies op Kingsmead. Foto: AP

“Oor al die jare heen het ek nog net twee Suid-Afrikaanse kolwers gesien wie se tegniek so goed soos Markram s’n is. Dit is Barry Richards en Jacques Kallis. Ek het nog min in my lewe so ’n goeie kolfbeurt gesien soos Markram s’n (143) in die tweede beurt van hierdie toets,” het Bacher in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê.

“Veral as jy die situasie in gedagte hou waarin die span was op 49/4. Die druk op so ’n jong speler moes enorm gewees het. Die Aussies het hom ook baie dinge toegesnou en hom die heeltyd probeer ontsenu, maar hy het nie ’n tree teruggestaan nie. Dit spreek boekdele van sy temperament en sy karakter. Net met hoe hy dit hanteer het, het hy gewys hy gaan een van die heel grotes word,” glo Bacher.

Die Aussies het hom ook baie dinge toegesnou en hom die heeltyd probeer ontsenu, maar hy het nie ’n tree teruggestaan nie.
Ali Bacher

“Hul (Australië se) boulaanval staan ook kop en skouers bo enige aanval in wêreldkrieket uit en hul drie snelboulers is van die beste as ’n eenheid wat ek nóg gesien het. Van die houe wat Markram gespeel het teen van die beste snelboulers wat daar in wêreldkrieket is, was van die hoogste gehalte. Daar is veral twee dryfhoue vanaf die agtervoet waar hy op sy tone was teen Pat Cummins en die bal telkens deur die dekveld grens toe gejaag het, wat vir my uitgestaan het.

Dr. Ali Bacher sê Australië beskik oor een van die beste boulaanvalle wat hy nóg gesien het, met Mitchell Starc (hier in aksie) aan die spits van ’n indrukwekkende sneltrio. Foto: Reuters

“Ek glo en hoop hierdie beurt van hom sal senior spelers soos Hashim Amla en Faf du Plessis inspireer om ook weer hul beste spelpeil te bereik. Dit gaan nodig wees om die res van die reeks te red en terug te kom ná hierdie nederlaag,” sê Bacher.

Hy glo ook Markram gaan nog eendag die toetskaptein word en in daardie rol uittroon.

Is hy nie ’n bietjie vir die wolwe gegooi deur hom so vroeg in sy loopbaan met die eendag-kapteinskap te vertrou in die onlangse reeks teen Indië, waar dinge sleg uitgerafel het nie?

“Nee wat, ek dink nie so nie. Ek glo nog altyd as jy oor daardie leierseienskappe beskik soos wat hy beslis doen, is dit nie ’n probleem nie. Ek was 21 jaar oud toe ek Transvaal se kaptein geword het en kyk hoe jonk was Hansie Cronjé toe hy as die Vrystaat se kaptein gekies is. Graeme Smith was ook net 22 toe hy Suid-Afrika se kaptein geword het,” sê Bacher.

Hoekom kon Suid-Afrika hier by die huis nog nie weer teen die Aussies regkry wat sy span in 1970 gedoen het met daardie skoonskipsege van 4-0 nie?

“Dit is moeilik om ’n antwoord daarvoor te kry. Jy moet dalk eerder die Aussies vra hoekom kon hulle in die laaste drie reekse teen Suid-Afrika daar in Australië nie bo uitkom nie en telkens teen ons vasgeval het,” het hy gesê.

Meer oor:  Proteas  |  Ali Bacher  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.