Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bacher: ‘Ons is die grap van wêreldkrieket’

Thabang Moroe is heeltemal té onervare om Suid-Afrikaanse krieket te lei en hy is uit sy diepte. Hy moet dit ernstig oorweeg om te bedank as die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA).

Dít is die mening van dr. Ali Bacher wat as eertydse grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket en ook as kaptein van die Springbok-krieketspan diep spore in dié sportsoort getrap het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse krieketbaas Ali Bacher.Foto: Gallo Images

Bacher het Woensdag in ’n onderhoud met Netwerk24 sy stilte verbreek oor die chaos waarin KSA deur die huidige bestuur gedompel is.

“Ons is op die oomblik die grap van wêreldkrieket,” sê Bacher.

“Daar is groot kommer by almal vir wie krieket na aan die hart lê oor wat aan die gebeur is.

“Ek wil nie hê ons moet opeindig soos die Wes-Indiese Eilande, wat ’n eens magtige krieketnasie was en toe oor die afgelope dekade of twee ook net verdwyn het as krieketmag nie,” sê hy.

Volgens Bacher is daar nie genoeg mense wat die kitaar slaan in SA krieket wat kennis van die spel het nie. Dit sluit die topbestuur van KSA en ook die uitvoerende raad in.

“Ek wil dit duidelik maak dat ek eintlik van Thabang (Moroe) hou en goed met hom oor die weg kom. Die werklikheid van die situasie moet egter aanvaar word dat hy nie geskik is vir hierdie pos nie,” sê Bacher.

Hy glo die belangrikste sake wat nou aandag moet geniet, is om slaggereed te wees vir die Engelse toer, wat oor minder as twee weke begin. Die Engelse speel dan twee opwarmingswedstryde in Benoni.

Die eerste toets begin op 26 Desember in Centurion en hy glo daar moet so gou as moontlik ’n keurkomitee aangewys word wat móét bestaan uit mense wat die spel op die hoogste vlak ervaar het en ken.

“Dan moet die onervare Protea-afrigter, Enoch Nkwe, omring word deur drie hulpafrigters wat baie ervaring het en weet waaroor dit gaan,” sê hy.

Hy het ook onthul dat hy vroeër vanjaar as bemiddelaar opgetree het in onderhandelings tussen KSA en Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein, oor die pos as direkteur van krieket.

Thabang Moroe, die beleërde uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Thabang en Graeme het my op 28 Augustus by my huis kom sien oor daardie pos wat aan Graeme aangebied is. Ek was baie opgewonde daaroor en het gevoel as die enigste persoon wat nog sy land in meer as 100 toetse op die veld gelei het, sou Graeme die ideale kandidaat gewees het. Graeme was self baie opgewonde daaroor. Ons het ná daardie vergadering nog verskeie oproepe gehad. Hy sou op 1 Oktober in daardie pos begin het.

“Teen 15de November was sy kontrak egter nog nie voltooi nie en het Graeme alle vertroue in die proses verloor,” sê Bacher.

“Verder is dit ook so dat die toetskaptein, Faf du Plessis, op die onlangse toer na Indië glad nie geken is in die aanstelling van die nuwe afrigter (Nkwe) en sy drie hulpafrigters nie. Ek dink Faf is uitstekend as kaptein, maar sy insette moet tog ook in berekening gebring word,” sê hy.

Wat die direkteur van krieket betref, glo Bacher daardie aangeleentheid moet nou eers uit die speelveld geskop word.

“Dit is nie iets wat van kardinale belang is nie. Selfs al vat dit vier tot ses maande om die regte persoon te vind, is dit nie ’n probleem nie. Adverteer eers weer die pos en sif dan die kandidate.

“Daar moet beslis nie ’n oorhaastige besluit geneem word nie. Die prioriteit is om KSA se huis in orde te kry en toe te sien dat dinge op die speelveld teen Engeland glad kan verloop,” sê hy.

Moroe het Dinsdag in ’n verklaring, waarin hy amptelik om verskoning vra dat hy vyf joernaliste se akkreditasie die afgelope naweek teruggetrek het, gesê hy besef sy werk as uitvoerende hoof is altyd in die soeklig.

“Dit is om etiese redes en my liefde vir krieket dat ek aanpas by die proses. Wat duidelik word en deel van ons leerproses in SA krieket is, is dat daar meer en beter kommunikasie met al ons rolspelers moet wees. Ek onderneem dus dat ek en my organisasie in die toekoms meer gereeld en openlik sal kommunikeer. Ons is dit aan almal betrokke by SA krieket verskuldig,” sê Moroe.

Meer oor:  Joernaliste  |  Krieketskrywers  |  Ksa  |  Thabang Moroe  |  Akkreditasie  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.