Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bacher prys Proteas ná hulle sege nadoen

Die Suid-Afrikaanse krieketspan van Ali Bacher was in 1970 die laaste om Australië in Suid-Afrika in ’n toetsreeks te klop.

Tot Dinsdag, toe daardie rekord reggestel is en daar uiteindelik weer ’n Suid-Afrikaanse toetsspan kon doen wat Bacher en sy uitstekende span 48 jaar gelede gedoen het.

Die Proteas vier Dinsdag hul reekssege oor Australië, die eerste op tuisbodem sedert 1970. Foto: Reuters

“Ek wil Faf (du Plessis) en sy span gelukwens met wat hulle vermag het. Dit was ’n uitsonderlike poging om hierdie reeks so oortuigend te wen nadat hulle die eerste toets verloor het,” het Bacher gesê.

“In Faf het Suid-Afrika ’n uitstekende kaptein en daar kan met groot verwagtinge uitgesien word na die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket. Veral met soveel goeie jong spelers wat hierdie span die toekoms in gaan dra,” sê hy.

Bacher erken dit sal vreemd wees om nie meer van sy span te kan praat as die laaste wat die Aussies hier plaaslik in ’n toetsreeks geklop het nie.

Hy het sy gedagtes 48 jaar teruggevoer en sê hy het aan die stuur gestaan van ’n jong span. “Daar was nuwe spelers soos Barry Richards, Mike Procter en Lee Irvine wat aan die begin van hul toetsloopbaan was. Die enigste speler wat regtig aan die skadukant van sy loopbaan was, was Trevor Goddard,” sê Bacher.

In Faf het Suid-Afrika ’n uitstekende kaptein en daar kan met groot verwagtinge uitgesien word na die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket. Veral met soveel goeie jong spelers wat hierdie span die toekoms in gaan dra
Ali Bacher

“Ons was ’n goeie span, maar ons was nie arrogant nie. Was daar ’n vyfde toets in die reeks, sou ons dit ook gewen het, want elke sege het net meer oortuigend geraak.”

Soos die Aussies nou in Nathan Lyon ’n puik draaier in hul groep het, het hulle op daardie toer in John Gleeson ’n goëlaar gehad.

“Hy het oor die vermoë beskik om weg- en bybrekers te boul en toe ek hom in die eerste toets die eerste keer trotseer, het hy my soos ’n idioot laat lyk. In die eerste twee boulbeurte wat ek teen hom gekolf het, het ek nie een keer die kolf teen die bal gevoel nie. Hy het my heeltemal uitoorlê.

“Ek het toe maar besluit om sulke sloeghoue teen hom te speel en dit het ’n bietjie verligting gebring.

Ali Bacher en Barry Richards word skouerhoog van die veld gedra op St. Georgepark nadat hulle in die 1969-’70-reeks met die Aussies afgereken het. Foto: Gallo Images | Wessel Oosthuizen

“Ons enigste kolwer wat Gleeson sonder probleme gespeel het, was Barry Richards, wat in sy eerste, en enigste, toetsreeks gespeel het.

“Barry het met soveel gemak teen hom gespeel dat hy self uit sy kolfkampie gedans en hom deur die dekke gedryf het. Dit het net gewys watter begaafde speler Richards was.”

Bacher is van mening dat Suid-Afrika in Keshav Maharaj self ’n baie spesiale draaier het. “Dit is iets wat Suid-Afrika jare nie gehad het nie, en om uiteindelik ’n draaier te hê wat ’n wedstrydwenner uit eie reg is, is opwindend.

“Met alles wat in hierdie reeks gebeur het, het dit in die tweede toets (in Port Elizabeth) so half ongemerk verbygegaan dat die hele boulaanval net uit spelers van kleur bestaan het (Vernon Philander, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Maharaj). Dit voorspel ook wonderlike dinge vir Suid-Afrikaanse krieket met al hoe meer swart snelboulers wat hul verskyning maak en sterk aanspraakmakers is op toetsplekke,” sê hy.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Proteas  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.