Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bacher steun Markram as toetskaptein

Dr. Ali Bacher, een van die grootste krieketgeeste in Suid-Afrika oor die afgelope 55 jaar, glo daar is net een kandidaat om by Faf du Plessis oor te neem as die Suid-Afrikaanse toetskaptein.

Dit is Aiden Markram. LEES OOK: Jennings sê ook Markram moet Proteas lei

Aiden Markram verlede jaar vir die Proteas in aksie in die eerste toets teen Engeland in Centurion. Dié aanvangskolwer word hoog aangeslaan deur dr. Ali Bacher. Foto: Gallo Images

“Vir my is hy die enigste kandidaat wat uitstaan,” het Bacher, ’n voormalige Springbok-kaptein en ook voormalige grootbaas van SA krieket, vandeesweek gesê.

“Ek glo hy beskik oor al die vaardighede om ’n baie goeie toetskaptein te word,” sê Bacher van hierdie 24-jarige Pretorianer, wat die grootste deel van die afgelope seisoen misgeloop het weens beserings.

“Die belangrikste van ’n kaptein moet wees dat hy sy plek in die span op meriete moet verdien en dit sal gewis die geval met Aiden wees,” glo Bacher.

“Hy het reeds gewys waartoe hy in staat is as kaptein deur die Suid-Afrikaanse o.19-span in 2014 te lei na die titel as wêreldkampioen. Dus wys dit jou hy weet hoe om leiding te neem in die groot oomblik en wanneer die druk op sy ergste is.”

Markram se kolfpeil het verlede jaar op die rampspoedige toer na Indië kwaai onder die soeklig gekom en hy was teen die Indiese draaiers ’n paaltjie wat gewag het om te val. In ’n stadium het sy frustrasie so oorgekook dat hy – nadat daar ’n swak beslissing teen hom was – sy vuis in die kleedkamer teen ’n harde objek geslaan het en sodanig beseer is dat hy geruime tyd nie kon speel nie.

Hy het op ander toere in die sub-kontinent ook ’n swak plek teen draaiboulers getoon, maar Bacher glo nie dit gaan ’n struikelblok wees wat teen hom sal tel om die nuwe kaptein te word nie.

Ek glo goeie kapteins word gebore en Aiden is in daai kategorie.

“Ek glo hy gaan gewis verbeter as kolwer en sy tegniek sal ook beter word. Hy het reeds gewys watter uitstaande kolwer hy is en dat hy die regte temperament het. Hy is nog jonk en was net bloot gefrustreerd in Indië toe hy kop verloor en sy vuis geslaan het. Ek sal dit beslis nie teen hom hou nie. Die positiewe aspekte is veel meer as daardie paar negatiewe dinge by hom en daar moet eerder na die positiewe gekyk word,” glo Bacher, wat die Suid-Afrikaanse kaptein was in die beroemde reeks teen Australië in 1970-’71 toe Suid-Afrika met 4-0 geseëvier het.

“Ek glo goeie kapteins word gebore en Aiden is in daai kategorie. Al is hy jonk, het hy al sy leierseienskappe gewys, en net soos Graeme Smith en (wyle) Hansie Cronjé hul goeie leierskap vroeg uitgestal het, sal hy dit ook kan doen.

“Aiden dwing al respek af op hierdie vroeë ouderdom. Hy is ’n gebore leier en sal weet hoe om die span bymekaar te hou. Ek het op 21-jarige ouderdom al die kaptein van Transvaal geword en op 20 was ek Balfour Park se kaptein wat die Transvaalse Premierliga gewen het. Dit is net iets wat in jou is en wat jy wil uitleef.

“As jy vir Jacques Kallis, hoe briljante speler hy ook al was, die kaptein wou maak, sou hy ’n miljoen myl wou vlug om dit nie te doen nie.

“Aiden is beslis die man om die toetsspan te lei en daar hoef nie eens verder gekyk te word nie. Faf was ook ’n baie goeie leier, maar hy het ongelukkig nou by die einde van die pad gekom.

“Ek glo ook Graeme Smith (direkteur van krieket) het ’n baie goeie besluit geneem om Quinton de Kock nie die toetskaptein te maak nie. Daar was nog net een paaltjiewagter in die geskiedenis van die spel wat in alle formate (toets-, eendag- én T20-krieket) suksesvol die kaptein kon wees, en dit is MS Dhoni van Indië.

“In die geheel is kapteinskap, kolfwerk en om paaltjiewagter te wees net te veel verantwoordelikheid vir een speler,” sê Bacher.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Ali Bacher  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.