Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Balpeutery al lankal deel van krieket'
Cameron Bancroft verskyn voor die media in Kaapstad ná afloop van die balpeuter-skandaal in Maart. Foto: Getty Images

Balpeutery is niks nuuts nie, dis waarskynlik deel van krieket lank voor Cameron Bancroft in die kriekettoets tussen Australië en Suid-Afrika in 2018 op Nuweland met ’n stukkie skuurpapier in die hand betrap is.

Dit is die mening van Mark Taylor, voormalige Australiese krieketkaptein .

Hy het saam met twee ander voormalige Aussie-toetsspelers, Ian Chappell en Ian Healy, aan ’n paneelbespreking oor balpeutery deelgeneem presies ’n jaar nadat die Australiese toetsspan in Kaapstad skandes gemaak het.

Bancroft, Steve Smith, die Aussie-kaptein, en David Warner is lank geskors vir hul aandeel in dié omstrede voorval.

Smith het destyds in Kaapstad gesê dit was die eerste keer dat Australië hom aan balpeutery skuldig gemaak het.

“Ek kan jou belowe dit het nog nooit voorheen gebeur nie,” het die kaptein gesê.

Maar Taylor betwyfel dit.

Mark Taylor / Foto: Getty Images

Krieket Australië se ondersoek na die Nuweland-voorval, onder leiding van sy voormalige hoof van integriteit, Iain Roy, het net op die een voorval gefokus, sê Taylor.

“Daar was geen ondersoek om te probeer vasstel hoe lank daar al gepeuter word met die bal nie,” aldus Taylor, wat die Aussies van 1994 tot 1999 aangevoer het.

“Was dit werklik die eerste keer, soos Smith beweer het? Daar is by my geen twyfel nie dat ‘balbestuur’ al vir ’n baie lang tyd deel van die spel is.

“Ek sou so ver gaan om te sê dat elke krieketnasie dit al gedoen het of aan maniere dink om dit te doen. Daar is ’n bitter fyn lyn tussen ‘balbestuur’ en balpeutery.”

Die grys gebied, sê Taylor, is hoeveel van die sogenaamde balbestuur in die verlede eintlik balpeutery was en hoeveel daarvan ongesiens verbygegaan het.

Roy se ondersoek het gelei tot ’n skorsing van 12 maande vir Smith en Warner en een van nege maande vir Bancroft.

Al drie het hul skuld aanvaar en hul straf sedertdien uitgedien.

Enige twyfel oor of die ondersoek dieper moes gedelf het as bloot die Nuweland-voorval, word vinnig deur Chappell, nog ’n voormalige Aussie-kaptein, uit die weg geruim.

“Daardie ondersoek was redelik spesifiek, so amper asof Krieket Australië sy mes vir Smith en Warner ingehad het.

“As dit ’n behoorlik ondersoek was, sou dit veel dieper na ander voorvalle gesoek het.”

Ek dink dit word al ’n hele ruk lank gedoen. Baie spelers het al daarmee weggekom. Die ondersoek het drie spesifieke spelers geteiken.
Ian Healy

Healy sê hy twyfel baie sterk of Nuweland die eerste keer was dat so-iets plaasgevind het.

“Ek dink dit word al ’n hele ruk lank gedoen. Baie spelers het al daarmee weggekom. Die ondersoek het drie spesifieke spelers geteiken.”

Vroeër vandeesmaand het die gerespekteerde krieketkommentator Mike Haysman gesê sedert daardie Kaapstad-voorval het omgekeerde swaai ’n “stil dood gesterf” in toetskrieket, met spanne wat nou bitter versigtig is oor hoe daar met die bal “gewerk” kan word om dit te bewerkstellig.

Taylor sê die amperse obsessie met omgekeerde swaai is die wortel van alle kwaad.

“Een van die redes hoekom Australië hom tot so ’n ekstreme daad in Kaapstad gewend het, is omdat hy ’n fiksasie met omgekeerde swaai het.

“Dit terwyl hy oor drie van die beste blitsboulers ter wêreld beskik. Na tien beurte begin die spelers dan dink wat hulle aan die bal kan doen om omgekeerde swaai te bied.

“Hulle raak so meegevoer met omgekeerde swaai dat daar skoon vergeet word van ortodokse, normale swaaiboulwerk, wat al vir 140 jaar lank met sukses gebruik word,” sê Taylor.

Ian Chappell, die voormalige Australiese toetskaptein. Foto: Getty

Chappell, wat kaptein was toe Dennis Lillee, een van die beste snelboulers, vir die span gespeel het, sê spanne het te ver weg beweeg van die basiese beginsels van snelboulwerk.

Sedert omgekeerde swaai sy kop uitgesteek het, is dit skynbaar al waarop daar gekonsentreer word.

“Ek dink dit gaan al ’n geruime tyd so aan, met spanne wat ’n fiksasie het oor omgekeerde swaai, ten koste van gewone swaaiboulwerk met die nuwe bal.

“As kaptein moet jou eerste doel voor oë wees om die topkolwers so gou as moontlik uit te kry. Vir dekades lank is die taak met gewone swaaiboulwerk vermag.

“Daardie soeke na omgekeerde swaai is die probleem. Dit laat spanne allerhande dinge aanvang om dit te probeer bewerkstellig.”

- Reuters

Meer oor:  David Warner  |  Cameron Bancroft  |  Australie  |  Krieket  |  Toetskrieket  |  Skandaal  |  Balpeutery  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.